Raaiselagtige verdwyning van Pretoria-man laat soekers kopkrap

’n Boukontrakteur van Sinoville, Pretoria, het spoorloos verdwyn nadat sy verlate bakkie op die Swadini-pad gevind is.

“Nag, Bokkie. Ek gaan nou slaap. Die krag is nog steeds af.”

Dit was die laaste woorde wat Jacque du Toit Sondagaand met haar man, Gielie, gepraat het. Skaars 12 uur later is sy bakkie verlate op die Swadini-pad gevind en het hy spoorloos verdwyn.

Machiel (37) is ’n boukontrakteur van Sinoville, Pretoria, wat met ’n projek by die Acornhoek Mall besig was. Volgens Jacque het hy tydelik op Kampersrus gebly, sowat 30 km van die bouperseel af.

Machiel se neef, Gideon Engelbrecht, is tans in Acornhoek om met die soektog te help. Hy het vanoggend, 8 Januarie, gesê hulle het nog geen spoor van Machiel gevind nie, maar is in samewerking met die polisie en die Kampersrus-plaaswag besig om alle leidrade op te volg.

Du Toit is Maandagoggend omstreeks 05:15 by Kampersrus weg, en daar is nie weer enigiets van hom gehoor nie. Met behulp van die opsporingsapparaat in sy Mahindra-bakkie is dié omstreeks 09:00 op die Swadini-pad gevind.

Wat egter vreemd was is dat die bakkie heeltemal in die teenoorgestelde rigting as die Acornhoek Mall gevind is. Dit was nie gesluit nie, daar was geen tekens van struweling nie en die sleutels was steeds daarin.

Net Machiel en sy selfoon was weg, maar nog geen sein kon daarvan opgepik word nie.

Engelbrecht wou nie verdere inligting bekendmaak oor onder meer waar Machiel se ander persoonlike besittings, soos sy beursie, was nie. “Daar is baie vrae en daar is sekere inligting wat nie tans bekendgemaak kan word nie,” sê hy.

Machiel du Toit. Foto: Verskaf

Tydens sy verdwyning was Machiel in ’n tweekleurige hemp, Boerboel-kortbroek en veiligheidstewels geklee. Hy het verskeie tatoeërings op sy boarms.

Enige inligting oor Machiel kan by 072 145 8809 aan Engelbrecht verskaf word.

Foto: Facebook

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button