Sakeman (50) wat deur ‘n buffel doodgegaffel is was ‘lief vir die bosveld’

Naasbestaandes sê Benjamin de Bruyn was op sy gelukkigste in die bosveld.

“Hy was hartstogtelik lief vir die bos en jag al die afgelope 17 jaar gereeld.”

Só vertel die familie van Benjamin de Bruyn (50), ‘n sakeman van Gauteng en oudleerling van die Hoërskool Drie Riviere wat Donderdag, 30 Junie dood is nadat ‘n buffel hom op ‘n wildplaas naby Lephalale bestorm en doodgegaffel het.

Die voorval het glo omstreeks 08:00 op die plaas Oxford naby Steenbokpan buite Lephalale gebeur, waar De Bruyn en sy pa, dr. Flip de Bruyn, gaan jag het.

Die plaas Oxford, naby Lephalale. Foto: Facebook/Oxford Safaris
Benjamin en sy pa, ‘n afgetrede uroloog van Vereeniging, het glo Woensdag, 29 Junie daar aangekom. 

Die plaas is naby die grens met Botswana, ongeveer 20km van Steenbokpan en 75km van Lephalale.

Benjamin het blykbaar die buffel gekwes, waarna die dier gedraai en hom bestorm het.

Volgens lt. kol. Mamphaswa Seabi, ‘n woordvoerder vir die polisie, het die eienaar van die wildplaas, Tino Snyman (41), skote op die buffel afgevuur, waarna die dier hom ook bestorm en aangeval het.

Snyman het volgens Seabi ontsnap deur in ‘n boom te klim.

‘n Derde persoon, ‘n fotograaf wat ook tydens die voorval by was, het glo ‘n veilige afstand van die dier gehou.

Volgens Seabi is nooddienspersoneel later ontbied. De Bruyn is op die toneel dood verklaar en Snyman is na die hospitaal geneem vir behandeling.

Hy het glo sy regterarm gebreek en het ander wonde en kneusplekke opgedoen.

Die dier is na die voorval van kant gemaak.

Benjamin de Bruyn was glo lief vir die bosveld en vir jag. Foto: Verskaf
Snyman sê De Bruyn is op slag dood.

“Met eerste impak was hy dood. Dit is nie iets waaraan mens dink of wil hê nie,” het hy gesê.

Die polisie het verlede week ‘n beroep op boere en toeriste gedoen om veiligheid aan die dag te lê wanneer hulle naby wilde diere is.

De Bruyn, ‘n sakeman in die konstruksiebedryf, het in Vereeniging grootgeword en in 1990 aan die Hoërskool Drie Riviere gematrikuleer.

Hy is die seun van dr. Flip de Bruyn en June de Bruyn. Die ouers bly in Vereeniging.

Hoewel dr. de Bruyn saam met sy seun op die plaas was, was hy nie by toe die buffel vir Benjamin bestorm het nie.

‘n Familielid sê: “Ons harte is stukkend en ons verlang na sy stem.”

Die familielid beskryf Benjamin as iemand wat ‘n goeie humorsin gehad het.

“Hy het ook voluit geleef. Miskien is dit waarom sy tyd op aarde nou klaar is.”

’n Gedenkdiens vir Benjamin word 16 Julie om 11:00 by die Nederduits Gereformeerde Kerk Suikerbos (die tikmasjienkerk) in Vereeniging gehou.

Benjamin laat sy vrou en twee kinders, ‘n 15-jarige dogter en 13-jarige seun, agter.

Benjamin de Bruyn op sy gelukkigste, in die bosveld. Foto: Verskaf
‘n Sonsondergang op die plaas Oxford, naby Lephalale. Foto: Facebook: Oxford Safaris

 

Read original story on vaalweekblad.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button