Soektog na Oudtshoorn-volstruisboer duur voort ná voertuig deur vloedwater meegesleur is
Vir ’n voormalige Boer van die jaar-wenner was Saterdag ’n doodgewone dag todat hy probeer het om ’n laagwaterbrug oor die Olifantsrivier oor te steek.
Die soektog na die bekende Oudtshoorn-volstruisboer en voormalige Suid-Afrikaanse Boer van die Jaar, Saag Jonker, duur voort nadat sy Toyota Land Cruiser Saterdagmiddag (26 Septemer) deur die vloedwater van die Olifantsrivier meegesleur is.
Jonker is die stigter van die Saag Jonker-groep, wat sedert 1976 in die Klein Karoo bedrywig is en hoofsaaklik by volstruisboerdery, verwerking en bemarking betrokke is. Die groep het oor die jare uitgebrei tot een van die streek se grootste privaat volstruisbedrywighede.
Luidens die Oudtshoorn Courant is Jonker se bruin Toyota Land Cruiser, omstreeks 13:00 deur die vloedwater meegesleur toe hy probeer het om ’n laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, sowat 3 km buite Oudtshoorn, oor te steek.
Die Olifantsrivier is tans in volle vloed ná swaar reënval in die opvangsgebied suid van Beaufort-Wes.
Volgens Jonker se familie het hy daardie oggend, soos hy dit al jare doen, sy rondtes en inspeksies op plase gedoen.
“Hy was op pad terug na sy huis in Oudtshoorn toe die voorval plaasgevind het.”
’n Omvattende soekoperasie is kort ná die voorval van stapel gestuur. Duikers, hommeltuie en ’n AMS-helikopter het die gebied ure lank deursoek.
Met Oudtshoorn Courant se besoek aan die toneel het polisieduikers bevestig dat die rivier steeds te sterk vloei om te duik. Daar is ook nog geen teken van Jonker of sy voertuig gevind nie.
Die soekspanne wag tans vir die rivier om te sak, maar die soektog na Jonker duur voort.
Die Jonker-familie het hul opregte dank uitgespreek teenoor die nooddienste, duikers, helikopterbemanning, hommeltuigoperateurs, boere, vrywilligers en lede van die gemeenskap wat by die soektog betrokke is.
“Ons is diep dankbaar vir die geweldige ondersteuning, besorgdheid en gebede wat ons ontvang het,” lui die verklaring.
Die familie doen terselfdertyd ’n beroep op die publiek en media om hul privaatheid gedurende hierdie uiters moeilike en onseker tyd te respekteer en om nie oor die voorval te spekuleer of onbevestigde inligting te versprei nie.
Enige verdere inligting sal deur die Jonker-familie bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com