Soektog na weermaglid wat met R4 verdwyn ná opleiding

Lede van die weermag, ‘n helikopter en lede van die polisie se honde-eenheid, sowel as sy familie, soek na Isak Thompson.

Isak Thompson, ‘n lid verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weermag, word sedert verlede week gesoek na hy tydens opleiding by die Oudtshoorn-infanterieskool met ‘n R4-geweer vermis geraak het.

Volgens sy broer, Ricardo, is Isak ‘n reservis.

“Ons het hom die Sondag by die basis afgelaai sodat hy opleiding daar kon doen. Toe hoor ons skielik hy is vermis.”

Volgens inligting wat Ricardo ontvang het, het Isak saam met ander lede Woensdagaand gaan slaap en het die ander lede die volgende oggend agtergekom dat hy – met sy geweer – vermis is. ‘n Soektog by die basis wat lede van die weermag, ‘n helikopter en lede van die polisie se honde-eenheid insluit, is van stapel gestuur, maar was tot dusver nog onsuksesvol.

“Die nuutste inligting wat ons gister ontvang het was dat Isak moontlik iewers in Bongolethu rondloop met sy uniform en die geweer. Dit is die eerste keer dat ons hoor dat hy so iets doen. Dit is buite sy aard. Hy is die broodwinner. Hy het ‘n vrou en kinders ook. Hy het nog nooit so iets gedoen nie. Dit is so onduidelik. Sy selfoon, beursie en ander persoonlike goed is nog in by die infanterieskool.”

Volgens ‘n berig van News24 was Isak na bewering deel van ‘n uithoustaptog en het hy glo van ‘n liesbesering en blase op sy voete gekla. Volgens die berig wou die instrukteurs glo nie hê dat hy aan die opleiding moet onttrek nie, omdat die opleiding gestaak sou moes word indien te veel soldate onttrek.

‘n Navraag is aan die weermag, sowel as die polisie gestuur.

Enigiemand met inligting oor waar Isak hom bevind kan Ricardo by 084 544 6736 kontak.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

Back to top button