Swanger vrou van Pretoria na bewering met lepel verkrag

‘n Vrou wat na bewering met ‘n lepel verkrag is, het haar tot AfriForum gewend vir hulp.

‘n Vrou van Pretoria, wat beweer dat die man met wie sy destyds in ‘n romantiese verhouding was haar met ‘n lepel verkrag het terwyl sy hoog-swanger was, sê dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) versuim het om die beskuldigde van verkragting aan te kla, ondanks genoegsame bewyse.

Volgens AfriForum se privaatvervolgingseenheid ignoreer aanklaers by die Pretoria-Noord selanddroshof hul versoek dat die saak na die streekhof oorgeplaas moet word en dat die beskuldigde wat reeds ander klagtes in die gesig staar, ook vir die ernstige seksuele oortreding aangekla moet word.

Felicia Mkondo, die klaagster in die saak, het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader nadat die aanklaer wat haar saak behartig haar glo sleg behandel het.

Mkondo het toestemming gegee dat haar identiteit bekend gemaak word.

Sy sê dat die aanklaer se gedrag haar nie net aan sekondêre trauma blootgestel het nie, maar dat daar belangrike bewyse uit die dossier verdwyn het.

Mkondo beweer dat sy seksueel en fisiek mishandel is, en dat sy foto’s en ander bewyse daarvan gehad het.

“Elke keer as ek hof toe gegaan het, was die bewyse nie daar nie. Die foto’s was weg.”

Die beskuldigde is reeds vir aanranding met die doel om ernstig te beseer en seksuele teistering aangekla..

Woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, Barry Bateman, sê die oortredings teen Mkondo het tussen Februarie 2020 en Desember 2022 plaasgevind.

“Die privaatvervolgingseenheid het in ’n skrywe aan die NVG gesê dat die beskuldigde die klaagster in hierdie tyd na bewering onderwerp het aan fisieke en seksuele geweld.

“’n Eetlepel is na bewering by haar private dele ingesteek, wat tot geweldige bloeding gelei het terwyl sy hoog-swanger was. Voorts het hy haar ook na bewering geklap, geslaan, gewurg en haar teen mure vasgegooi.”

Volgens Bateman het die eenheid al twee skrywes aan die senior staatsaanklaer gerig om te pleit dat verkragting ook by die beskuldigde se lys van oortredings gevoeg word aangesien daar meer as genoeg bewyse is om dié klag te staaf.

“Albei briewe is onbeantwoord gelaat en daarom is twee harde kopieë van die briewe Donderdagoggend by die hof aan die aanklaer oorhandig.”

Volgens Bateman laat die NVG vroulike slagoffers van misdaad in die steek.

“Die wyse waarop slagoffers deur aanklaers behandel word, is ver verwyderd van die beloftes wat deur die NVG-leierskap gemaak word, mense wat geen benul het van die werklikhede wat in die howe ervaar word nie.”

Bateman sê so lank as wat aanklaers versuim om met klaagsters te kommunikeer, hulle met minagting behandel, en hulle behoeftes ignoreer, sal misdadigers op vrye voet bly

“Die privaatvervolgingseenheid sal voortgaan om slagoffers van geslagsgebaseerde geweld te help en te verseker dat aanklaers hulle werk doen,” sê Bateman.

Die saak is tot 1 Augustus vir verhoor uitgestel.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ally Cooper

Passionate storyteller with over 30 years’ experience as a journalist, editor, proofreader, content creator, social media manager and public relations and media liaison specialist.
Back to top button