Tiener (16) van Potchefstroom veg vir sy lewe na fietsongeluk
Die seun is tans op ’n ventilator terwyl dokters wag op toetsuitslae om te bepaal wat die omvang van die skade aan sy brein is.

Die seun wat twee weke gelede met sy fiets in ‘n botsing met ‘n verkeersmotor in Potchefstroom betrokke was, veg tans om sy lewe in die hospitaal nadat hy ernstige breinbeserings opgedoen het.
Andries Botha (16) was 8 Maart in ‘n ernstige ongeluk op die hoek van Chris Hanistraat en Walter Sisululaan toe ‘n verkeersmotor hom omstreeks 08:30 getref het. Volgens ooggetuies het Botha glo oor die rooi lig gery voor die voertuig hom getref het.
Op die dag van die ongeluk het ‘n ambulanshelikopter (Rocket HEMS) Botha vanaf Potchefstroom na die Netcare Alberton-hospitaal geneem vir behandeling.
Volgens Botha se ma Carina, sê dokters dat hy ‘n globale breinberoerte tydens die ongeluk opgedoen het. Dit beteken dat die grootste deel van sy brein basies dood is en dat sy kanse op oorlewing skraal is.
“Daar is nog baie swelling op sy brein. Hy is tans onder sedasie op ‘n ventilator in die hospitaal. Die dokters gaan toetse doen om te bevestig hoeveel lewe daar nog in die brein is, maar intussen gaan hulle voort met behandeling,” sê Carina.
Haar kind se ongeluk is vir haar ‘n groot skok en sy noem dat sy nog baie vrae het oor wat gebeur het.
“Ek weet nog steeds nie presies hoe alles gebeur het nie. Andries (wat tuisonderrig ontvang) was op pad huis toe en hy het nooit my WhatsApp-boodskap geantwoord nie. Ek het hom probeer bel om te hoor of hy veilig is, maar daar was nie antwoord nie. ‘n Polisiebeampte het my man toe gekontak en van die ongeluk vertel,” sê Carina.
Noordwes polisiewoordvoerder lt.kol. Amanda Funani sê dat ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur ondersoek word.
Read original story on www.citizen.co.za