Tiener verskyn in Polokwane hof vir ‘biltongvrou’ se moord

Hy is aanvanklik vir ‘n mislukte huisbraak gearresteer en het toe na bewering erken dat hy die moord gepleeg het.

Die tiener wat daarvan beskuldig is dat hy vir Lindie Oberholzer (52) vermoor het, het vandag vir die tweede keer in die Polokwane Landdroshof verskyn. Oberholzer se familie het met Polokwane Review gepraat oor die skok van haar moord.

Die 18-jarige moordbeskuldigde se eerste verskyning was op 26 Augustus, waartydens die saak vir ‘n week uitgestel is om die ondersoekbeampte tyd te gee om uitstaande ondersoeke te voltooi en ander moontlike sake wat aan die beskuldigde verbind kan word, te verkry.

Die beskuldigde was aanvanklik vir ‘n mislukte huisinbraak in Welgelegen gearresteer, en het toe glo erken dat hy vir Oberholzer vermoor het.

Oberholzer was vir baie jare deel van die Vleislapa-familie en onder talle slegs bekend as die ‘biltongvrou by Vleislapa’. Sy was met verlof en besig om gordyne te stryk toe sy in haar huis oorval is.

Haar man, Obie, en haar seun, Armand Smit, het op haar lyk afgekom toe hulle haar wou verras nadat hulle vroeër as beplan van ‘n jagtog teruggekeer het.

“Julle weet nie hoe dit voel om die deur oop te maak en jou vrou in haar eie bloed aan te tref nie,” vertel haar man terwyl sy trane vrylik rol.

Antonette Koekemoer, die vermoorde se dogter, was onder die eerste mense op die toneel.

“My ma het vroeër gesê sy gaan ‘n bietjie huis skoonmaak terwyl sy met verlof is. Dit is daar, waar sy met strykwerk besig was, waar sy oorval is. Die strykyster was nog aan toe ons daar kom.

“Oom Obie is baie lief vir my ma. Hulle sou in Oktober hulle vyfde huweliksherdenking gevier het. Hy het gereeld vir haar blomme gekoop en op sy hande gedra. Hierdie is vir hom baie erg,” vertel sy.

Dit blyk of die aanvaller toegang tot die huis verkry het deur ‘n badkamervenster – die enigste venster in die huis wat nie met diefwering beskerm is nie.

“Ons vermoed die aanvaller het nie geweet daar is iemand tuis nie,” het Koekemoer vertel.

“My ma se Duitse herdershond, Mufasa, is altyd by haar, maar daardie dag het sy hom êrens toegemaak terwyl sy skoongemaak het.”

Die familie vermoed dat Mufasa ook deurgeloop het, aangesien hy wegskram wanneer hulle aan hom raak, asof hy pyn ervaar.

“Ons as familie is kwaad en hartseer. Ons vra heeltyd hoekom dit moes gebeur. Ek weet dit was nie die Here se wil vir my ma nie. Sy het die hartseer en swaar in die lewe geken. Hierdie is vir ons moeilik.”

Die beskuldigde se borgtogaansoek sal op 13 September aangehoor word, het die hof vandag besluit. Hy bly tans in aanhouding.

 

Read original story on reviewonline.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button