Twee sussies hou kop tydens brand op plaas in Magoebaskloof

Twee tieniermeisies is helde in hul familie se oë na hulle verlede Maandag gehelp het om ‘n verwoestende brand op hul grootouers se plaas in Magoebaskloof te bestry.

Danksy Carla (16) en Leandri Smith (14) se kophou, kommunikasie en hulpvaardigheid het hul ouma en oupa, Herman en Claudia Smith, se huis op hul plaas, Vluckthoek in Magoebaskloof, Limpopo, nie afgebrand nie.

Die Smiths se plaasstoor, wat slegs ‘n paar meter van hul huis af geleë is, het egter afgebrand en ‘n trekker, twee bakkies en die gesin se sportnutsmotor het uitgebrand.

“Ons het vroegoggend op die gemeenskapgroepe gesien dat dit in Magoebaskloof brand,” vertel hul ma, Vicky.

Carla het saam met haar pa, Hermann, die dag soos ‘n doodgewone werksdag begin en het gery om ‘n boom wat die pad versper het op te sny met ‘n kragsaag.

Die Smiths se woonhuis.

Dit is toe wat Carla die reusevlamme in die rigting van haar oupa se plaas gewaar het wat sowat 3km van hul eie huis in George’s Valley is soos die kraai vlieg. Sy het haar ma wat by Herman snr. se huis was, gebel en gewaarsku om eerder teerpadlangs (‘n 30km-ompad) huis toe te ry (gewoonlik net ‘n 6km-roete deur die berg).

“Ek het gesê ma moet vinnig maak, die vuur brand klaar op oupa se plaas,” vertel Carla.

Deur die loop van die dag het sy ook saam met haar oupa en die plaaswerkers vuurgeslaan.

“Leandri het saam met haar pa op die trekker deur massiewe vlamme gery om by haar oupa uit te kom en het gesien hoe die brand skielik draai terwyl hy besig was om die watertenks vol te maak,” sê Vicky.

‘n Werker het tweedegraadse brandwonde opgedoen en is deur Vicky na die hospitaal geneem vir behandeling.

“As ek nie gery het nie, het dié voertuig ook afgebrand en was ons nou karloos,” sê sy.

Die stoor en voertuie langs die Smiths se huis is afgebrand.

Dit is toe wat die brand in die rigting van die stoor en die huis versprei het. Carla het in die huis vir haar pa gewag om haar asmapompie te bring na sy benoud gevoel het. Sy het hom gebel toe sy sien dat die vuur naby aan die huis brand. “Ons het gehoor hoe ‘pop’ die voertuie se batterye in die vlamme,” sê Carla.

Leandri het saam met haar pa by die huis ingehardloop om haar sussie en die honde te red nadat die skadunet teen die huis vlamgevat get. Carla het met Romé Malan, ‘n plaaslike paramedikus gepraat wat haar rustig gehou het en gehelp het om die situasie te hanteer.

Leandri, Carla, Rouan Snyman, haar pa en oupa het daarna die vlamme in die groentetuin en die grasperk met water begin blus.

“Selfs die hoendertjies het doodgebrand en die ruite het gebars van die vlamme se hitte.”

Die gesin het Rouan Snyman, kapt. Bryan Hyland, Marelise McLean en Romé Malan bedank vir hul bystand tydens die brande.

“Ons is dankbaar vir ons gesondheid en dat ons nog leef, dit is alles genade van God,” sê Vicky.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button