Verdagtes breek bank in Potchefstroom se dak oop

Daar kan op hierdie stadium nie vasgestel word of enigiets gesteel is nadat drie wagte gisteroggend vasgebind is nie.

‘n Groep van sewe verdagtes het vroeg gisteroggend toegang tot die perseel van Capitec Bank se kluis in die Ikageng Gate inkopiesentrum in Zinnstraat verkry.

Die verdagtes het na vermoede die dak bo die kluis van buite oopgesny en die plafon uitgebreek om toegang te verkry met die doel om die outomatiese tellermasjien te bom. Drie wagte is ook vasgebind, maar dit is nog nie vasgestel of enigiets vermis is nie.

Volgens CB Security se operasionele bestuurder, Eldrick Jordaan, het daar teen 01:05 ‘n alarm afgegaan waarna reaksie na die toneel is. “Een van die sekuriteitswagte het kontak met ons rekasielede gemaak en genoem dat alles blykbaar reg is. Alles het toe in orde gelyk, maar ons reaksie kon nie toegang tot die dak kry nie,” verduidelik Jordaan.

Die vermoede is dat verdagtes ‘n wag gedreig het om van dié reaksie ontslae te raak terwyl die ander twee wagte alreeds vasgebind was. ‘n Paar ure later, teen 04:24, was CB Security, Mooirivier Beskerming en Ikageng-polisie ook op die toneel.

Volgens Kaptein Sam Tselanyane, die polisiewoordvoerder in Noordwes, het die wagte langs Capitec Bank gepatrolleer toe hulle drie gewapende mans gesien het.

“Die verdagtes het die wagte gedreig en die wagte met hul skoene se veters aan beide hul hande en voete vasgemaak,” noem Tselanyane.

Twee van die verdagtes het ook glo die wagte se uniforms gesteel en dit aangetrek.

“Na ‘n ruk het die sekuriteitsmaatskappyvoertuig by die hek gestop. Dit is toe wanneer die verdagtes die een wag losgemaak het en vir hom genoem het dat hy moet weghardloop. Hy het toe na die polisiestasie gehardloop,” voeg Tselanyane by.

“Dit is nog onduidelik hoe die verdagtes van die toneel gevlug het. [Die] ondersoek duur voort.”

Read original story on potchefstroomherald.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button