Verrassende getuienis in Middelburg-moordsaak
Beskuldigde beweer voortvlugtende is verantwoordelik vir die dood van ‘n man, wie se verkoolde liggaam in ‘n motor gevind is.
In verrassende getuienis wat gelewer is tydens ‘n borgaansoek in ‘n moordsaak, het een van die beskuldigdes gistermiddag gesê dat sy mede beskuldigdes niks met die moord te doen het nie.
Jan Jordaan (beskuldigde 2) het tydens borgaansoekverrigtinge in die Middelburg Landdroshof gesê dat Angelique (Angie) Appelgryn en Alexander (Alex) Grobler nie by was toe Danie Maritz doodgemaak is nie.
Die drie is verlede Donderdag en Vrydag gearresteer nadat Maritz se oorskot die Donderdag in ‘n uitgebrande voertuig gekry is.
Maritz is na bewering by ‘n skrootmetaal besigheid in Middelburg vermoor waarna hulle sy liggaam in ‘n voertuig gelaai en na ‘n area in Clewer gery het. Die voertuig is daar aan die brand gesteek.
Die Audi A3 het aan Appelgryn behoort.

Die drie beskuldigdes het Maandag voorgekom en die saak was gister weer op die rol geplaas vir borgaansoek.
Grobler het getuig dat die polisie hom aangerand het om ‘n bekentenis af te lê.
Jordaan was na hom in die getuiebank.
Kort nadat hy die getuiebank betree het, het Jordaan uitgeroep: “Kobus het hom doodgemaak!”
‘Kobus’ is nie een van die beskuldigdes tans voor die hof nie enJordaan het beweer dat hy gevlug het toe hy hoor dat die polisie na hulle soek.
Daar is kort voor 16:00 begin met Appelgryn se getuienis.
Die drie se regsverteenwoordiger, adv. Petrus Ntuli, het haar ondervra in ‘n poging om spesiale omstandighede te bewys waarom sy kliënte borg moes kry.
Daar was egter nie tyd vir die staat, by monde van aanklaer Rehan Lourens, om Appelgryn te ondervra nie..
Landdros Christa Pohl het die saak laat oorrol tot vandag om die res van die borgaansoek aan te hoor.
Daar word verneem dat die ondersoekbeampte in die saak ook vandag sal getuig.

Die drie het oornag in aanhouding gebly.
Maritz se familie was ook weer by die hofverrigtinge.
Die familie sê dat daar DNS van Martiz se pa, Willem, geneem sal word om met die oorskot wat in die kattebak gekry is, te vergelyk.
Die oorledene het onherkenbaar verkool.
Om die uitslag van die toetse te bespoedig, sal die familie betaal dat ‘n privaat laboratorium die DNS toetse doen.

Read original story on www.citizen.co.za