Video: Mookgophong se rondloper-luiperd nog soek ná aanval op man

Inwoners van Mookgophong word gevra om waaksaam te wees nadat 'n tuinwerker 'n noue ontkoming met ’n luiperd gehad het.

Bosveld het ’n nuwe betekenis gekry toe inwoners van Mookgophong gister moes koes nadat ’n luiperd in ’n woonbuurt opgemerk was.

Die luiperd het ’n tuinwerker aangeval en lig beseer voordat dit weer verdwyn het. Die dier is sedertdien soek en inwoners word gewaarsku om op hul hoede te bly.

Die Pos het gaan aanklop by David du Toit by 131 Agtstestraat in Mookgophong om te hoor presies wat gebeur het. Volgens hom was sy honde reeds Woensdagnag onrustig maar hy het niks daarvan gemaak nie.

“Ek was veronderstel om vroeg vanoggend Pretoria toe te ry. My werker, Jacob [Monyeki], het die hekke vir my oopgemaak en voor ek uit die agterplaas kon ry het hy my gewaarsku om terug te gaan. Eers het ek nie geweet wat aangaan nie en toe sien ek die luiperd” vertel Du Toit.

Dié voormalige boer het al heelwat luiperde in lewende lywe teëgekom. Hy meen die dier is manlik, gegrond op die grootte van sy kop, asook die spore wat hy in die tuin gelos het.

Die Pos kon ook met Monyeki telefonies kontak maak aangesien hy reeds gisteroggend ná die voorval ontslaan is van die Mookgophong gemeenskapsgesondheidssentrum en vandaar terug na sy tuisdorp Vaalwater was.

“Ek het nie geweet wat gebeur het totdat die dier my opgespring het [nie]. Ek het net gevoel die gewig is op my en hy het met sy naels my regterarm gekrap.

“David het my toe na die gemeenskapskliniek in Mookgophong gevat vir steke en ek is daarna ontslaan,” aldus Monyeki.

Natuurbewaringinstansies is steeds opsoek na die roofdier. ’n Span is besig om deur die omgewing te beweeg, maar tot dusver het die luiperd weer spoorloos verdwyn.

Natuurbewaarders van die Limpopo Nature Conservation waarsku dat die groot roofkat enige rigting kan inslaan.

Die gemeenskap word aangemoedig om hulle dadelik te kontak by 015 290 7000 indien die luiperd gewaar word.

Volgens die VF Plus-raadslid, Marita Louw, is dit steeds onduidelik hoe die roofdier in die dorp beland het. “Ons weet dat daar wildsplase in die omgewing is en boonop is daar ’n oopstuk veld net ’n straat bokant die erf waar die luiperd eerste opgemerk is. Dit is egter baie ongewoon dat so ’n wilde dier so ver in die dorpsgebied sal dwaal.”

Die voorval het dadelik kommer laat ontstaan oor inwoners se veiligheid. Veral kinders en troeteldiere word bedreig deur so ’n groot en wilde roofkat.

Sedert die eerste waarneming is inwoners gemaan om versigtig te wees. Om hul erwe te fynkam en indien hul die dier gewaar, dadelik die  ligging te rapporteer aan plaaslike departement van  natuurbewaring.

Die insident plaas weereens die kollig op die fyn balans tussen mens en natuur in Limpopo, waar wild soms onverwags in gemeenskappe beland.

Intussen bly die boodskap aan inwoners duidelik: Wees waaksaam, bly kalm en moenie self probeer om die dier te nader of te vang nie.

Kyk die video:


 

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button