Vlaag grusame moorde skok Vanderbijl
Meeste van die slagoffers is oorval terwyl hulle te voet op pad iewers heen was.

Gerugte dat ‘n reeksmoordenaar in Vanderbijlpark se Central West (CW) area doenig is wil maar net nie gaan lê nie. Die polisie ontken dit egter en sê dat daar geen bewyse is om te staaf dat die moorde verband hou nie.
Inwoners is angstig nadat daar minstens vyf geweldadige moorde in die area, en ‘n sesde by Bophelong aangrensend aan die CW area, sedert Julie was.
Talle ander slagoffers is ernstig aangerand in dieselfde area. Sommige moes in die hospitaal opgeneem word vir behandeling.
Die moorde en aanrandings het almal in ‘n 2km radius plaasgevind. Kenmerkende snye is glo op die voorkoppe van sommige van die slagoffers gemaak. Van die vroulike slagoffers is ook seksueel aangerand.
- Beula Ellis se liggaam is op 25 Julie in ‘n sloot waarin veselkabels gelê gaan word in Curierylaan gevind.
Sy was te voet na haar woonstel in NW7 (naby die dorp se swaar nywerheidsgebied) op pad nadat sy karwagdienste by ‘n aandbyeenkoms van die Hoërskool Transvalia gelewer het. - Patrick Smit (30), het op 30 Julie na ‘n bloedige aanranding op ‘n sypaadjie in Einsteinstraat, CW2, gesterf.
Hy het hoofbeserings en opvallende wonde aan sy gesig, oë en mond gehad. Hy is eers onlangs deur sy familie in die plaaslike lykshuis opgespoor en uitgeken. - Twee vroue van die area wat as “Little Portugal” bekend staan, is glo in afsonderlike voorvalle op dieselfde manier vermoor. Hul identiteite is nog nie bekend gemaak nie.
- Nog ’n vrou se erg vernielde lyk is glo ook in die omgewing van ‘n bekende kuierplek in Mumfordstraat gevind en ‘n man is met bloeding op die brein in die hospitaal opgeneem nadat hy in ‘n afsonderlike voorval in die omgewing aangerand is.
- Twee inwoners het die koerant ingelig dat hulle in afsonderlike voorvalle deur ‘n man met ‘n balaklawa oorval en beroof is terwyl hulle te voet van hul werk af op pad huis toe was.
- Op 9 Augustus is Skye Fagyas, so erg in die omgewing van die Siësta-versorgingsoord in Pasteur-boulevard aangerand dat sy twee dae later in die Sebokeng-hospitaal beswyk het.
Volgens inligting het sy die aand vanaf haar huis in Jan Cilliersstraat, CW6, geloop om geld vir kos by ‘n OTM te gaan trek.
Sy is in Pasteur-boulevard, digby Herfsoord en die Siësta-versorgingsoord, oorval en aangerand. ‘n Inwoner het in die vroeë oggendure Fagyas se kreungeluide gehoor en op haar afgekom waar sy erg beseer op die sypaadjie gelê het. - In die mees onlangse geval is ‘n voetganger 25 Augustus naby ‘n winkelsentrum in Stephensonstraat met ‘n swaar voorwerp oor sy kop geslaan en beroof van alles wat hy by hom gehad het. Hy is in die hospitaal opgeneem en ‘n klag is by die polisie gelê.
Inwoners wat in die gebied woon het met Vaalweekblad praat op voorwaarde dat hulle anoniem bly. Hulle sê hulle is nou te bang om op straat te wees maar dat hulle soms geen keuse het nie.
“Die mense van ons omgewing is nie ryk nie. Nie almal het voertuie nie en baie van ons moet loop waar ons wil wees,” sê ‘n middeljarige vrou van Kiplingstraat, CW6.
Sedibeng SAPD-woordvoerder, Kaptein Fikile Funda, sê dat die moorde intensief ondersoek word.
Hy sê dat daar huidiglik geen bewyse is dat die moorde en aanrandings met mekaar verband hou, of deur dieselfde persoon of groep gepleeg word nie.
Hy het daarop gewys dat gerugte dat van die slagoffers se oë verwyder is, onwaar is.
Read original story on vaalweekblad.com