Voormalige Mosselbaaise onderwyser gevonnis vir seksuele misdrywe

Wikus Smit (46) het skuldig gepleit op aanklagte wat seksuele aanranding, seksuele voorbereiding en die wys van pornografie aan ’n kind insluit.

’n Voormalige gr. 7-onderwyser van Laerskool Park in Mosselbaai is vandag in die plaaslike streekhof gevonnis op agt aanklagte wat verband hou met seksuele misdrywe teenoor kinders.

Volgens Mossel Bay Advertiser sluit die aanklagte onder meer seksuele aanranding en seksuele voorbereiding (grooming), asook die wys van pornografie aan ’n kind, in.

Die 46-jarige beskuldige, Wikus Smit, het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan en het skuldig op al agt die aanklagte teen hom gepleit.

Smit is in September 2023 by die laerskool in hegtenis geneem.

Die dade

Die staatsaanklaer, Gerda Marx, het aan die hof gesê dat Smit die twee slagoffers se registeronderwyser was. Hy het ook ander vakke aan hulle onderrig.

Die dade het tussen 2019 en 2021 by verskeie plekke in Mosselbaai, onder meer in Smit se slaapkamer en by ’n woonstelgebou waarheen hy een van die slagoffers geneem het, plaasgevind.

Smit het drie maande in aanhouding spandeer voor hy op huisarres vrygelaat is.

Tydens die hofverrigtinge het hy emosioneel geraak en hy het by tye sy trane met ’n sakdoek afgevee.

Die hof het gehoor dat die dade met die slagoffers gepleeg is toe hulle tussen die ouderdom van 13 en 14 was.

Van die dade het plaasgevind nadat die slagoffers reeds die laerskool verlaat het en in gr. 8 was.

In die hof

As verswarende omstandighede het Marx aan die hof gesê Smit was in ’n gesagsposisie as onderwyser van die slagoffers, en dat hy op hulle kwesbaarheid geprooi het.

“Die misdrywe is oor ’n lang tydperk gepleeg, en die beskuldigde het dus tyd gehad om te kon reflekteer oor sy dade.”

Marx het aan die hof gesê Smit was as onderwyser toevertrou met die veiligheid van minderjarige kinders.

“Hy het die kinders seksueel mishandel, en dit het nie net ’n impak op die slagoffers gehad nie, maar ook op die gemeenskap van Mosselbaai, omdat die ouers en leerders se vertroue gebreek is.”

Marx het gesê onderwysers is veronderstel om in ’n posisie van vertroue te wees, en dat daar van die leerders verwag word om onderdanig aan ’n onderwyser te wees en vir hulle te luister.

Sy het gesê die gebeure het ’n diep impak op die twee slagoffers gemaak en diep sielkundige letsels gelaat.

Vonnis

Smit het ná sy inhegtenisname uit sy eie as onderwyser bedank en ook as SWD- en Craven-rugbyafrigter.

Die hof het gehoor hy en sy vrou, by wie hy twee kinders het, is intussen uitmekaar en in die proses om te skei.

Smit is tot altesaam 20 jaar gevangenisskap gevonnis, waarvan agt jaar opgeskort is vir vyf jaar.

Hy sal dus 12 jaar effektief tronkstraf uitdien en sal eers ná agt jaar in aanmerking vir parool kan kom.

Die staat het ook versoek dat sy naam op die nasionale register vir seksuele oortreders geplaas word, asook in die nasionale kinderbeskermingsregister.

Hy is onbevoegd verklaar om ’n vuurwapen te besit en om met kinders te werk.

Die saak is suksesvol ondersoek deur Adjudant-Offisier Soretha van Zyl en Kaptein Franco Bestbier van die Mosselbaai-polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.

  • Die presiese omstandighede van die misdrywe wat gepleeg is teenoor die twee slagoffers is in die hof bekend gemaak, maar word weens die eksplisiete aard weerhou om die slagoffers te beskerm.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Back to top button