Vrou op Diasstrand met mes gesteek

’n Gereelde besoeker aan Mosselbaai is getraumatiseer nadat sy aangeval is terwyl sy na skulpe gesoek het.

’n Vrou is Vrydag met ’n mes gesteek terwyl sy, haar kind en susterskinders skulpe op Diasstrand, Mosselbaai, wou optel.

Die vrou, Francelle Botes, het op Facebook ander inwoners gewaarsku.

Botes en haar gesin is van Klerksdorp af en kom hou al vir ’n paar jaar lank hier vakansie by haar skoonouers.

“Ek wil asseblief die mense waarsku, veral vrouens en jong mense: Wees asseblief versigtig op Diasstrand vroegoggend en laatmiddag. Ek en my kind en twee familielede is aangeval en met messe gesteek en beroof.”

By navraag het Botes die beweerde voorval aan Mossel Bay Advertiser bevestig.

“Ons (ek en my dogtertjie van 12) en my broer se twee kinders van 20 het so 05:15 by Diasstrand gaan stap om pansy skulpies op te tel. Ons het gekyk en gesien dat daar net ’n vrou en haar hond op die strand was. Ons het gestop en met haar gesels om te hoor min of meer waar ons die skulpies kan kry.

“Ons het verder gestap en niks vermoed nie. Op pad terug het twee mans uit die bos gekom en ons begin volg. Ons het vinniger probeer loop en selfs hardloop.

“Een het na my broer se kinders gegaan en hulle begin dreig, die ander een het na my en my kind gekom. Ons het begin skreeu en hulle het messe uitgeruk.

“Een het my kind probeer vang en aan haar baadjie geruk, toe het ek hom begin skop en slaan om haar te los. Hy het my toe begin steek met ’n mes in my arm, steek en ruk, en toe sy weg hardloop het hy weer gesteek.

“Ek het my foon vir hom gegooi en ons het weg gehardloop. My broer se kinders het hulle foon ook gegooi vir die ander man, want hy het ook begin met mes steek, maar darem nie raak nie. En hulle het weer in die bosse in die verdwyn.

“Ons het hospitaal toe gejaag , en daarna is ons polisie toe om ’n saak te gemaak.”

Mossel Bay Advertiser het ’n navraag aan die polisie gerig.

Botes sê hulle is baie getraumatiseerd, maar darem fisies (behalwe vir haar wonde) ongeskonde. Sy sê hulle het nog altyd met ’n geruste hart hier rond gestap.

Daar is in die verlede al versoeke gerig om waarskuwingsborde in die area op te rig weens soortgelyke voorvalle.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ally Cooper

Passionate storyteller with over 30 years’ experience as a journalist, editor, proofreader, content creator, social media manager and public relations and media liaison specialist.
Back to top button