Vrystaatse plaasaanvalle: Vrou in kattebak toegesluit, ander boer herhaaldelik gesteek

'n 72-jarige boervrou is die afgelope naweek in haar motor se kattebak gevind ná ‘n plaasaanval. In ‘n ander aanval is 'n boer herhaaldelik met messe gesteek.

‘n 72-Jarige vrou wat alleen in die Bultfontein-omgewing van die Vrystaat boer, is Vrydagaand  in haar huis oorrompel en wreed aangerand, waarna sy vir ure deur haar aanvaller in haar eie motor se kattebak toegesluit is.

Volgens Parys Gazette is sy uiteindelik in die toegesluite kattebak langs die pad gelos toe die motor waarmee haar aanvaller in die rigting van Bloemfontein gevlug het, naby Soutpan onklaar geraak het.

Die aanval op die bejaarde vrou was reeds Vrydagaand rondom 18:00, maar sy is eers die volgende middag, bykans ’n volle dag later, deur ‘n polisiebeampte in die verlate voertuig se kattebak gekry.

Die polisiebeampte van Bultfontein wat nie aan diens was nie, het die voertuig Saterdagoggend om 07:45 opgemerk, maar het met sy terugkeer later die middag om 17:15 onraad vermoed toe die motor steeds langs die pad gestaan het. Hy het ondersoek gaan instel.

Toe die vrou die voetstappe by die motor hoor het sy om hulp geroep en is uiteindelik bevry — uitgeput, gedehidreer en getraumatiseerd.

Nóg ‘n voorval

In ’n tweede voorval oor die naweek is ’n 56-jarige boer van die Clocolan-omgewing Sondagmiddag omstreeks 18:00 in sy plaashuis deur drie aanvallers oorrompel en ernstig aangerand.

Een van die aanvallers wou die boer glo skiet, maar is glo deur die ander gekeer. Die boer is toe herhaaldelik met messe gesteek.

Sy aanvallers het met kontant en vuurwapens gevlug.

Die boer kon daarin slaag om hom los te wikkel en het na die werkers se huise beweeg waar hulle hom gehelp het om hulp te kry.

Vrystaat Landbou (VL) het sy skok oor die aanvalle uitgespreek en die polisie bedank vir hulle vinnige optrede in beide gevalle.

Plaasaanvalle in 2025

Volgens dr. Jane Buys, ‘n veiligheidsrisiko-analis van VL, was daar gedurende 2025 in totaal 27 plaasaanvalle en sewe moorde in die Vrystaat.

In die plaasmoord-insidente was daar in een geval ‘n boer, ‘n ander geval ‘n besoeker en in vyf insidente werkers op plase vermoor. In vyf van die insidente is arrestasies uitgevoer.

In Desember is ses plaasaanval-insidente in die Vrystaat gerapporteer.

In die 27 plaasaanvalle was 12 boere en in sekere gevalle hulle vrouens, 12 plaaswerkers wat
veiligheidswagte en veewagters insluit, aangeval. Daar was verder drie insidente waar besoekers en of bewoners op plase ook geteiken was in plaasaanvalle.

In 11 insidente was daar arrestasies uitgevoer.

In ses dorpe was daar twee tot vier plaasaanval/moord-insidente, naamlik Bloemfontein, Clarens, Smithfield, Virginia, Warden en Wepener.

Beroep op boere om betrokke te wees

“Ons doen weereens ’n dringende beroep op alle boere, oud en jonk, om aktief deel te vorm van hul plaaslike veiligheidstrukture, insluitend plaaswagte, radiosisteme en veiligheidsinisiatiewe. Veiligheid kan nie geïgnoreer of uitgestel word nie. Samewerking en waaksaamheid is tans ons
enigste skild teen hierdie gruwel” sê Buys.

VL het weer met die owerhede gepleit om landelike veiligheid as ’n prioriteit te hanteer en om seker te maak dat dit nodige hulprbonne, mannekrag en aksies soos deur die Nasionale Landelike Beveiliging Strategie gerugsteun word, daargestel word.

Die lewe, waardigheid en veiligheid van boere, hulle gesinne en werkers op plase kan nie langer as onderhandelbaar beskou word nie, het die organisasie gesê.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.
Back to top button