Vyftienjarige meisie red baba wat byna verdrink
Die tiener van Middelburg in Mpumalanga het gisteraand haar susterskind (1) se lewe gered.
‘n Tiener van Middelburg, Leané Nordjé (15), het gisteraand haar susterskind, Wilmari du Toit (1), se lewe gered nadat sy byna verdrink het.
“Terwyl ons almal histeries was, het Leané doodkalm net aangehou mond-tot-mond asemhaling doen,” het haar ma, Seretha Nordjé vanoggend gesê.
Nordjé kan steeds nie glo haar dogter het haar kleindogter, Wilmari, se lewe gered nie.
Die gesin was doenig in die huis en weet nie hoe die hekkie van die swembad oop gekom het nie.
“My man, Jan, het aanmekaar begin gil en het ons Wilmari se lyfie op die swembad sien dryf.”
Nordjé het ‘n ambulans gebel en almal was in ‘n skoktoestand.
“Wilmari was reeds blou, daar was geen teken van lewe nie.”
Nordjé onthou hoe Leané dadelik opgetree, mond-tot-mond asemhaling gedoen en met haar twee vingers op Wilmari se borsie gedruk het.
“Sy het aangehou en aangehou tot Wilmari haar ogies oopgemaak het.”
Die ambulans het kort daarna opgedaag. In hierdie tyd het die familie ‘n foto van Wilmari op groepe begin rondstuur en gevra dat almal moet bid.
Nordjé sê alhoewel Wilmari by haar positiewe was, was sy baie pap en het die paramedici gesê hulle is bekommerd oor moontlike “tweede verdrinking”, as daar dalk nog water in haar longe is.
Hulle het Wilmari afgevoer na die Caloocan Kliniek in St’ Michaels. Na ‘n deeglike ondersoek deur die dokter, is Wilmari huistoe gestuur.
Sy moet Maandag teruggaan na die kliniek sodat x-strale van haar longe geneem kan word om seker te maak alles is reg.
“Wilmari het laasnag in haar pappa se arms geslaap. Nie een van ons het egter geslaap nie, want ons was so bekommerd oor haar.”
Klein Wilmari vier môre haar eerste verjaardag.
Nordjé glo ‘n Hoër Hand het dit so beskik dat Leané onlangs ‘n noodhulpkursus by haar skool voltooi het.
“Daar kon net vyf leerlinge gekies word uit die 30 en hulle moes selfs vir onderhoude gaan om die kursus te doen.”
Dit is Leané se droom om ‘n lugwaardin te word. Sou dit nie realiseer nie, sal sy graag ‘n paramedikus wil wees.
Vir beide moet jy kennis hê van noodhulp.
Sy was baie bly toe sy gekies is as een van die vyf vir die kursus.
“Min het ons geweet dat sy later haar sussie se baba, vir wie sy so lief is, se lewe sou red.”

Read original story on mobserver.co.za