Wes-Kaapse inbreker gevonnis ná hy sy ID op toneel vergeet

'n Man van Matjiesrivier, wat sy identiteitsdokument in die huis waar hy ingebreek het agtergelaat het, is gevangenisstraf opgelê.

‘n 31-jarige man van Matjiesrivier buite Oudtshoorn, wat sy identiteitsdokument in die huis waar hy ingebreek het agtergelaat het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 16 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy op twee aanklagte van huisbraak en een van roof met verswarende omstandighede skuldig bevind is.

Jason Farao het op 17 Junie 2022 by die woning van Clayton Zeelie ingebreek en op 8 Oktober dieselfde jaar by Voorbedacht Primêr.

In Zeelie se huis het hy verskeie items in ‘n sak gepak, waaronder sy ou skoene, nadat hy ‘n paar tekkies van Zeelie aangetrek het.

Hy het Zeelie se vriend, Gareth Ross, met ‘n mes gedreig toe Ross wakker geword het om badkamer toe te gaan en toe hy vlug het hy die sak, waarin sy identiteitsdokument was, op die toneel vergeet.

Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit is duidelik dat Farao ‘n gevaar vir die mense van Matjiesrivier inhou en lank uit die gemeenskap geneem moet word.

“Die beskuldigde gee nie om vir die kinders van Matjiesrivier se toekoms nie en om by ‘n huis in te breek terwyl daar mense binne is, is gevaarlik. Een kon dood gewees het. Die beskuldigde het ook geen ander keuse gehad om skuldig te pleit nie want hy vergeet ‘n belangrike dokument op die toneel. Die misdade getuig van absolute wetteloosheid en barbaarsheid.”

Farao is op aanklag een, inbraak by die skool, tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis en tien jaar op aanklag twee en drie, huisbraak en roof, opgelê.

Hy is vrygespreek van drie ander aanklagte: bemoeiing met ‘n lid van die mag, opsetlike saakbeskadiging en aanranding van ‘n polisiebeampte.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button