Yorkie van Potchefstroom veilig tuis ná ontvoering, verkope aan Secunda-gesin

'n Paartjie is oorstelp van blydskap dat hulle hondekind veilig tuis is nadat dié vir R500 onwettig deur 'n man verkoop is.

“‘n Man wat twee huise vanaf ons bly het Kilo deur die hek gelok. Kilo is baie vriendelik en sou saam hom gaan,” só vertel Schandry Kuhn, eienaar van ‘n Yorkshire Terrier wat 8 Oktober ontvoer en verkoop was.

Tiaan Grobler, haar verloofde, vertel dat die man Kilo vir R500 in die Potchefstroomse industriële gebied by ‘n petrolstasie aan inwoners van Secunda verkoop het.

“Die industriële gebied is baie naby, net oor die treinspoor,” verwys Kuhn na die treinspoor met die gebreekte beton-heining in Soetdoringstraat. “Kilo is nie die eerste slagoffer nie. Die vrou wat op die hoek bly sê haar hond is ook deur die man gesteel en verkoop, maar sy het nie genoeg bewyse om hom wettelik te vervolg nie.”

Grobler en Kuhn het sonder ophou na Kilo gesoek. “Ons het [verlede] Sondagoggend 16:00 bietjie gaan lê en 18:00 weer opgestaan en verder gesoek.” Die paar het sonder ophou gesoek tot 18:00 verlede Maandagaand. “Onbekendes het kom hulp aanbied, mense het heeldag rondgery en help soek na Kilo. Mense het in die strate rondgedraf en na hom gesoek. Daar was ‘n vrou wat die hele middag met ‘n stootwaentjie rondgeloop en soek het na Kilo,” vertel die twee saam.

Tiaan Grobler en Schandry Kuhn is oorstelp van blydskap om Kilo by die huis te hê. Foto: Verskaf.

Teen verlede Maandagaand was hulle raadop, en Kuhn het vir Grobler gesê hulle moet ‘n oomblik van stilte vat en bid. “Direk daarna bel ‘n man en sê dat hulle Kilo gekoop het. Ek het gevra vir ‘n foto en gesien dit is Kilo. Ons het 18:30 [verlede] Maandagaand uit Potch gery Secunda toe, en het 00:30 Dinsdagoggend weer in Potch aangekom,” vertel Kuhn met trane in haar oë.

Sy is steeds baie emosioneel en Grobler kyk met deernis na haar. “Ek’s gebreek. Dit was die ergste twee dae van my lewe. Ek het nog nooit so seer gehad nie. Ek het aanhou wonder of hy ‘n warm plek het om te slaap, of hy kos het, en of iemand dalk oor hom gery het.”

Kuhn vertel dat Kilo al ‘n keer of twee uitgekom het, maar dan het hy Yorkies wat oorkant die pad bly gaan groet, en mense kon altyd dadelik sê waar hulle hom gesien het. “Die keer was daar egter geen spoor van Kilo nie en niemand het iets gesien nie,” sê sy.

Grobler en Kuhn is in die proses om inligting en bewysstukke bymekaar te maak en gaan wettelike stappe teen die man neem. Verder wil die paartjie dankie sê aan die Potchefstroom-gemeenskap vir hulle hulp en ondersteuning.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button