Willem Botha se jaar van suksesse

Sanger en akteur Willem Botha gesels oor hoe hy sy skielike roem hanteer, sy kersfeesplanne en wat aanhangers in die nuwejaar kan verwag.

Die dinamiese Willem Botha het die vermaakbedryf getref met ‘n knal en het skielike roemstatus behaal deur sy rolle in verskeie verhoogproduksies en Afrikaanse rolprente insluitend Pretville.

Sy nuutste album, My Stem Is Jou Stem wat vroeër dié jaar vrygestel is, was baie goed ontvang.

Die talentvolle sanger en akteur het met Rekord sy hoogtepunte, kersplanne en nuwejaarvoorneme gedeel.

Watter hoogtepunte staan vir jou uit hierdie jaar?

Die hoogtepunt wat vir my verseker kop bo skouers uitstaan was om deel van die televisie-reeks, Donkerland, te kon wees. Ek het die rol van Frederik de Wet gespeel. Dit was my eerste televisie rol. Boonop om saam met legendes soos Deon Opperman en Jozua Malherbe te werk was ‘n groot voorreg.

Verder was dit onwerklik vir my om op te tree by die internasionale sangkompetisie Eurovision in Swede hierdie jaar.

Is jy tevrede met die sukses wat jou album, My Stem is Joune, gehaal het?

Met elke projek en album wat ek maak sit ek my hele hart en siel daarin. Met my laaste album, My Stem Is Joune het ek soveel gegroei. Ek is baie trots op die album en die lekkerste gevoel was om te sien hoe goed die eerste treffer, Breekop in Stereo, gedoen het. Dit is die lekkerste gevoel as die mense by jou shows die woorde van jou songs ken.

Wat is jou planne vir Kerfees?

Hierdie jaar is die eerste jaar wat ek nie saam met my familie gaan wees nie.

Dit gaan baie erg vir my wees. Kersfees gaan vir my oor stil word en om net die geboorte van Jesus te koester.

Wat is jou nuwejaarvoorneme?

Ek het myself belowe dat ek die nuwe jaar meer saam met my pelle gaan braai by my huis. Ek doen dit hopeloos te min.

Beskryf jou ideale Kersfees?

Om saam met my ouers en familie op die plaas te kan wees. Ek kan nie beskryf hoe lekker dit daar is nie. Jy voel die liefde en vreugde. My ma maak kos wat ‘n wêreldklas restaurant sal laat skaam kry.

Jy het saam met baie bekendes in die bedryf gewerk deur die jaar, watter persoon staan uit vir jou en hoekom?

Dit was vir my baie oorweldigend om teenoor Gys de Villiers toneel te speel in Donkerland. Hy het my oupa gespeel. Hy het my soveel geleer en raad gegee. Dit was ook ‘n onbeskryflike ervaring om Bonnie Tyler by Eurovision te ontmoet.

Hoe hanteer jy die skielike roem?

Die ding wat ek altyd probeer doen is om net myself te wees. En dit is hoekom ek nooit ‘n probleem het as my ondersteuners na my toe kom vir ‘n foto of drukkie nie. Ek sien dit as ‘n groot voorreg.

Watter geheim, of geheime projekte kan jy aan Rekord verklap?

Well een van die dinge waarna ek verskriklik uitsien is ‘n nuwe musiekblyspel, Reik Na Die Sterre, wat 2014 in die Staatsteater speel.

Dis die eerste musiekblyspel waarin ek die hoofrol vertolk.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button