Roem roep na aspirant akteurs
Akteurs word gesoek vir nuwe produksie.
Lefra Produksies het sopas die regte bekom om Ray Cooney se skreeusnaakse klug, My Boetie se Sussie se Ou op te voer. Die teks is in Afrikaans vertaal en deur Pierre van Pletzen verwerk. Frans Swart sal die regie hanteer.
“Hierdie is natuurlik die opvolg op My Vrou se man se Vrou,” sê regisseur Frans Swart. “In My Vrou se Man se Vrou het John Smith twee vrouens gehad. Nou het hy ‘n seun by die een vrou en ‘n dogter by die ander vrou. Tipies klug, raak die twee “kinders” op mekaar verlief en John moet alles in sy vermoë doen om die ‘boetie’ en ‘sussie’ uitmekaar te hou. Hierdie plot gee wonderlike materiaal vir komiese momente in ‘n uitstekende klug.”
Swart sê ook dat hy hierdie klug beskou as een van die snaaksstes wat Ray Cooney ooit geskryf het.
Oudisies vir die rolle van Gavin Smith, ‘n 16-21 jarige seun en Vicky Smith, ‘n 16-21 jarige dogter word op 16 en 17 Januarie gehou. Indien spelers nog skoolgaande is, moet hulle en hul ouers kennis neem dat die toer gedurende skooltyd sal plaasvind. Om vir die oudisies genooi te word, moet kandidate ‘n volledige CV en ‘n onlangse foto epos voor 16 Januarie aan admin@lefra.com stuur. Meer inligting is beskikbaar van Charl Senekal by 011-815-3000.