‘n Eersteklas Valentynsbal saam Heinz Winckler

Moet nie jou begroting vir Februarie beplan sonder om kaartjies na die geleentheid van die jaar, die POPUP Valentynsbal, in te reken nie.

Vergeet van sjokolade en rose vir Valentynsdag — as jy jou geliefde se hart hierdie jaar wil laat vinniger klop, is die POPUP Diamanté Valentynsbal die ideale geleentheid.

Op 14 Februarie kan jy jou mooiste nommertjie uit die kas haal en jou hoë hakskoene afstof as jy dié uithanggeleentheid saam met gaskunstenaar Heinz Winckler en ander bekendes geniet.

Met ’n heerlike vyfgang aansitete en ’n orkes wat jou deur die aand sal vermaak, sal dié Valentynsbal beslis iets wees wat jy nie wil misloop nie.

Daar sal natuurlik groot pryse te wen wees en jy kan ook bie om saam met Heinz of ’n ander bekende te dans.

Rekord is trots om deel van dié glansgeleentheid, wat deur POPUP (People Upliftment Programme) aangebied word, te wees. POPUP gee al vir die afgelope 14 jaar vir duisende werklose mense ’n nuwe toekoms.

Deur POPUP se opleiding- en bemagtigingsprogramme leer mense om anders te dink, doen en leef. Vir elke kaartjie wat verkoop word, sal een POPUP-student ’n handleiding en skryfbehoeftes vir hul programkeuse ontvang. Op hierdie manier help jy om ’n verskil in iemand se lewe te maak.

Die POPUP Diamanté Valentynsbal word by Union Caterers, Utopia Place, in Pretoria gehou en kaartjies is beskikbaar vanaf R500 per persoon vir ’n silwer pakket. Maar indien jy ’n groter verskil wil maak kan jy ook ’n goud-, platinum- of diamantpakket neem.’n Vyfgangmaal, wyn, koeldrank, ’n geskenk en ’n vertoning deur Heinz Winkler is ingesluit.

Skryf dit in jou dagboek en beplan solank jou begroting — dié eersteklas geleentheid gaan iets vir die boeke wees.

Om plek te bespreek kan Nerésa Vogel tydens kantoorure by 012-003-2008 of 081-043-8813 geskakel word of stuur ’n e-pos aan neresa.vogel@popup.co.za.

Related Articles

Back to top button