Bekende skryfster kuier in geboorteland, gesels oor nuwe boek
Annelie Ferreira gesels oor haar nuwe jeugroman.
Mia is die spreekwoordelike tiener in Annelie Ferreira se nuutste jeugroman Dit Vat Guts.
Mia se uitdagings stop nie by bekommerd wees oor groot word, boobs kry en besluite maak oor liefde nie!
O nee, sy is boonop ook nog bekommerd oor daardie (wat-het-my-besiel-om-dit-aan-te-pak) debatkompetisie en haar vriendin, Annika, se perdryplanne.
Maar met al hierdie groeipyne is die nuus wat haar een somersmiddag inwag ondenkbaar.
Dit Vat Guts is ‘n pragtige verhaal oor liefde, hartseer, sterkwees en ‘n perd met die naam Harry, wat volg hoe Mia ontdek dat sy sterker kan wees as wat sy ooit kon dink!
Ferreira, oorspronklik afkomstig van Durbanville in die Kaap, is bekend vir haar fiksieboeke (Maar TinTin in Tibet) asook haar talle nie-fiksieboeke (Daar is ‘n Mens Binne, Eva ontmoet Einstein).
Hoewel sy heeltyds in Engeland woon was sy verlede week in Pretoria, waar Rekord met haar gesels het voor haar boek ondertekensessie by Lynnwood Bridge se Graffiti Books.
Ferreira het verduidelik dat humor vir haar ‘n groot rol speel in die lewe en dat dit juis daaroor is dat sy graag humor in haar boeke gebruik.
“Humor is baie belangrik. Dit help vir alles in die lewe,” het Ferreira gesê.
Sy het haar nuwe boek, Dit Vat Guts, oorspronklik as ‘n roman geskryf en later as ‘n jeugroman verwerk.
Sy glo dat sy nog boeke in die toekoms sal skryf en verduidelik dat Engeland haar kan inspireer, aangesien dit so in kontras is met die klimaat en kultuur van Suid Afrika.