Tobie Cronje weer op die planke, snaakser as ooit
Tobie Cronje het ‘n nuwe eenman vertoning en vyf gelukkiges kan kaartjies wen.
Tobie Cronje is vir die eerste keer in jare met ’n eenmanvertoning op die verhoog. Ballade van ‘n Banggat is ’n opvolg van die wegholsukses Annale van ‘n Windgat en beloof dieselfde intelligente humor en lewenswysheid.
Banggat handel oor die menslike behoefte om homself te aanvaar soos wat hy is. Dit word gedoen met oor-tot-oor humor en lagbuie wat soos krale ingeryg is. Die Banggat vertrek op ‘n reis van selfontdekking en selfaanvaarding waarin hy die gehoor meesleur.
Omdat dit handel oor die verskillende persoonlikhede van mense en lewensituasies waarin ons ons almal daagliks bevind, kan elkeen identifiseer met die Banggat se stryd. Die gehoor is dan ook diep betrokke by die uiteindelike ommekeer in die Banggat se lewe.
Hierdie voel-goed produksie, uit die pen van Barry van Rensburg, gaan jou laat skaterlag terwyl dit hoop bring vir die Banggat en elkeen van ons.
Tobie het ’n prys by Innibos gewen vir Akteur van die Fees in rolle vertolk in Ballade van ’n Banggat en Tango. Hy is ook genomineer vir ’n Fiesta as Beste spel in ’n Solo-vertoning in Ballade van ‘n Banggat.
Ballade van ’n Banggat is op 15 Februarie 2014 te sien by die Atterbury-teater.
Kompetisie: Vyf gelukkige wenners kan elk ’n stel van twee kaartjies wen om Ballade van ‘n Banggat by die Atterbury-teater te gaan kyk op 15 Februarie. Om in te skryf, SMS die woord BANGGAT saam met jou naam en van na 42282. Die kompetisie sluit 13 Februarie om middernag. SMS’e kos R1.50. Gratis SMS’e geld nie.