Boek vir gevangenes nou aan almal beskikbaar

'n Oud-kapelaan se beproefde boek wat gevangenes steun deur hul selfbeeld te verbeter, is nou beskikbaar aan die gemeenskap.

‘n Oud-kapelaan van Derdepoort wat ‘n boek geskryf het om gevangenes regoor die land se selfbeeld te verbeter, beoog nou om dieselfde boek te gebruik om mense van die gemeenskap te ondersteun en bemagtig.

Ds. Danie Kotzé, Ses stappe vir ‘n beter selfbeeld, wat deur middel van ‘n Bybelstudieprogram mense in gevangenisse se selfwaardigheid ten goede verander, is nou ook plaaslik beskikbaar.

Kotzé, wat ook die hoof van die Kameeldrift-krississentrum is, het gesê sy droom was nog altyd om die publiek met sy boek te kon aanraak.

“My doel met die boek is dat enige persoon die boek kan gebruik om hul lewe op te hef.”

Dié Bybelstudieprogram is deur Kotzé ontwerp nadat hy as kapelaan opgemerk het hoe die gevangenis ‘n persoon van sy menswaardigheid beroof.

“As jy tronk toe gaan, neem hulle al jou persoonlike besittings. Selfs die ringe aan jou vingers word weggeneem. Gevangenes se menswaardigheid word in so ‘n mate aangetas dat hulle elke dag in onnatuurlike omstandighede moet lewe.”

Hy wou iets doen om dié mense ‘n tweede kans te gee sodat hulle hul negatiewe omstandighede kan oorkom en het met navorsing vir die Bybelstudieprogram begin.

Kotzé het die boek bymekaar gesit en die Bybelstudieprogram by Zonderwater- en Baviaanspoort-gevangenisse op die proef gestel.

Die program dien as hulpmiddel en ondersteuning in fisiese, psigiese, sosiale, godsdienstige, familie asook realistiese optrede.

Die boek het positiewe resultate gelewer en is kort daarna deur die Departement van Korrektiewe Dienste goedgekeur en na 52 verskillende gevangenisse regoor die land versprei.

Kotzé se droom om die program onder die gemeenskap te versprei is reeds besig om te verwesenlik. Die Bybelstudieprogram is al by verskeie Bybelstudiegroepe en Universiteite beskikbaar en sal binnekort by skole ook te siene wees.

Vir meer inligting besoek www.gevangenisbediening.co.za.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button