Wat jou gesig van jou verklap

’n Nuut vrygestelde boek oor gesigsprofiele, Legkaart van jou gesig, verduidelik dat elke stukkie van ’n mens se gesig, verklap die geheime in jou lewe

Die eerste fisionomie-boek is Saterdag amptelik bekendgestel tydens ’n feestelike byeenkoms by die Huis vir Afrikaanse Poësie in Capitalpark.

Marthie Maré (50) van Waverley, se debuutboek, Legkaart van jou gesig, bring ’n nuwe element na Suid-Afrika se boekrakke met haar wye kennis van fisionomie, die studie van gesigsprofiele.

As ’n heeltydse praktiserende fisionoom in Suid-Afrika met reeds meer as sewe jaar ervaring, het Maré in haar beroepslewe meestal met mense gewerk en besef dat effektiewe kommunikasie van kardinale belang is om goeie verhoudings te bou.

Maré het persoonlikheidsprofiele van verskeie Suid-Afrikaanse vermaaklikheidskunstenaars en ander beroemdes saamgestel en het bekendheid verwerf deur TV- en radio-onderhoude en verskeie koerant- en tydskrifartikels. In haar boek het sy die lewe van glanspersoonlikhede, naamlik akteur Gavin van den Berg, radio-omroeper Amore Bekker en TV-aanbieder en aktrise Shemane Harris bloot te stel.

Maré se belangstelling in fisionomie het ongeveer agt jaar gelede begin nadat sy ’n praatjie gehoor het wat haar nuuskierigheid geprikkel het. “Ek was eers baie skepties oor die konsep dat jou gelaatstrekke eienskappe oor jou persoonlikheid kan verklap, maar nadat ek heelwat navorsing op die Internet gedoen het en baie boeke oor fisionomie gelees het, het ek die teorieë op mense wie ek ken toegepas en besef hoe akkuraat dit is,” het Maré gesê.

“Die resultate was ongelooflik en daarna was daar geen keer nie. Ek het my werk as grafiese kunstenaar bedank en Face Profile South Africa gestig,” het sy bygevoeg.

Dit het haar ongeveer drie jaar geneem om die boek te skryf. Haar grootste uitdaging in die skryfproses was om ’n balans te vind tussen persoonlike verpligtinge, om haar sakebedrywighede aan die gang te hou, en om tyd te maak om te skryf. “Ek het ongelooflike respek vir skrywers gekry en haal my hoef af vir dié wat dit heeltyds doen,” het sy gesê.

Legkaart van jou gesig bied ’n inleiding tot fisionomie wat die teorie agter elke gelaatstrek verduidelik en bevat praktiese wenke oor hoe om jou ware self weer te ontdek, effektiewe kommunikasie te bevorder en verhoudings te versterk. Die teorie word eenvoudig beskryf en gesteun deur foto’s wat dit maklik maak om nie net jou eie karaktereienskappe te kan herken nie, maar ook dié van jou familie, vriende en kollegas.

Legkaart van jou gesig, uitgegee deur Lapa-uitgewers, is nou op die boekrakke van alle boekwinkels in Afrikaans en Engels verkrygbaar.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button