Deel jou musiekdroom met Rinél Day en wen!
Rinél Day stel eersdaags haar nuwe album bekend, en jy kan 'n Yamaha-kitaar wen as jy jou droom met haar deel.

Met 22 nommer 1’s op radiostasies regoor Suid-Afrika in 2013 én ’n 16de plek by ’n internasionale kompetisie waarby Celine Dion 2de geeïndig het, is dit duidelik: die talentvolle Rinél Day is een dinamiese sangeres om voortaan dop te hou.
Rinél wil geen steen ongaangeroer laat in haar droom om musiek te maak nie. Dus het sy nie geskroom om ook self te begin skryf aan die liedjies wat op haar pas vrygestelde album, Dit Staan In Die Sterre, verskyn nie.
“Ek het geen van die liedjies op my debuutalbum, Rinél Day, geskryf nie. Ek het egter help skryf aan die liedjies vir my nuwe album, Dit Staan In Die Sterre, en dit bevat soveel meer van my eie styl. Die lirieke en melodieë van elke snit op die album vertel ’n storie,” het Rinél vertel.
Die album bestaan uit 16 snitte en is ’n genotvolle kombinasie van beide ontspanne en opgewekte, musiek. Rinél gee erkenning aan Michael de Lange, Johan Oberholzer, Emil Struwig en Waldo Greeff wat gehelp het om die liedjies neer te pen asook aan Byron Kuntz wat die album vervaardig het.
Sy meen dat daar iets vir almal op haar nuutste album is.
“Ek het probeer om elemente van pop, rock en country by die album in te bring en Byron Kunts het daardie elemente presies vasgevang.”
Haar suiwer stem word veral uitgebeeld in vokaal uitdagende liedjies soos die titelsnit, Dit Staan In Die Sterre asook Maak My Joune, ’n Duisend Gedagtes en As Jy My Laat Gaan. Daar is ook een gevoelvolle duet saam met Elvis se Seun op dié album wat ’n mens oor en oor wil luister.
Die album is skaars vrygestel maar vorder reeds uitstekend.
“Tot dusver verskyn die titelsnit, Dit Staan In Die Sterre, reeds op drie verskillende radiostasies se charts en daar is baie goeie terugvoer,” het sy gesê.
Rinél verskyn ook op 29 Maart op die gewilde progarm Jukebox waartydens haar eerste musiekvideo #DitStaanInDieSterre eksklusief vir die eerste keer gespeel sal word.
WEN WEN WEN! ‘n YAMAHA GUITAR!
Rinél Day wil graag hê dat jy jou musiekdroom met haar sal deel.
Al wat jy hoef te doen is om ‘n e-pos te stuur aan musiekdroom@gmail.com waarin jy vertel wat jou musiekdroom is, gevolg deur jou naam en van, kontaknommer en ‘n foto van jouself.
Die kompetisie sluit op die 28ste Maart om 12h00 en die gelukkige wenner word op dieselfde dag by Music Mate getrek. Die wenner se naam word op Jukebox kykNET 146 aangekondig op 29 Maart om 21h00 wanneer Rinél se eerste musiekvideo vanaf haar nuwe album, #DitStaanInDieSterre ook eksklusief gespeel sal word. Die wenner sal die kitaar by enige Music Mate in die land kan afhaal of dit sal per koerier gestuur word. Termes en voorwaardes geld.