Die partytjie van die jaar vir diere
DJ Ossewa tree 5 Mei by Barnyard Theatre Parkview om fondse in te samel vir Tshwane DBV.

Mense kan ’n groot makietie op 5 Mei verwag wanneer DJ Ossewa by Barnyard-teater Parkview, in Moreletapark, ten bate van die Tshwane DBVoptree.
Daniel Jakobus, VetFrik en Jerbes die Leeuboer is reg om hul partytjieskoene aan te trek en vir hul bewonderaars die ‘belewenis van die jaar’ te gee. “Jy sal lag, jy gaan kuier en as jy op die tafels wil dans – doen jy dit op eie risiko,” het hulle gesê.
Die groep mans het ’n sagte plek vir die diere wat by die DBV-herberg aangehou word. Hulle het al vir jare ’n unieke verhouding met die liefdadigheidsorganisasie. Dit het ’n paar jaar gelede begin toe Daniel Jakobus se twee sywurms weggeloop het en hy die DBV genader het om hom te help om hulle op te spoor.
Jerbes die Leeuboer het ook ondersteuning van hulle ontvang toe hy sy leeus vegetariers moes maak na die hartseer voorval van sy meisie wat weggeraak het. “Die goeie nuus is darem dat ek haar stuk-stuk wel opgespoor het,” het die Leeuboer gesê.
Selfs VetFrik voel sonder hul bystand en raad sou hy van sy geliefde kriek moes ontslae raak. “Gelukkig het die DBV ingegryp en nou speel Magnus Germishuizen, die kriek, die hele buurt saans aan die slaap met die strelende klanke van Mozart se vyfde simfonie,” het hy vertel.
Op ’n meer ernstige noot, troeteldiere lê baie na aan die drie se harte. “Ons almal beskou ons diere as ’n lid van die familie,” het die groepslede van DJ Ossewa gesê. “Daar is niks wat jou hart so bly maak as daardie getroue vriend se waaiende stert wanneer jy by die huis instap na ’n naweek op die pad en die res van die huislede reeds slaap nie. Dit laat ’n mens sommer weer tuis voel.”
Hulle voel baie sterk oor dieremishandeling en is van mening dat Gerrie Nel die diere ook moet verteenwoordig. “Dieremishandeling en verwaarlosing behoort dieselfde hanteer te word as kindermishandeling en verwaarlosing. Diere is afhanklik van die mense wat ’n doelbewuste besluit geneem het om hulle in te neem,” het hulle gesê.
Die musiekgroep hou hierdie geldinsameling in die hoop om meer skenkings vir die DBV in te samel. “Aangesien die DBV geen befondsing kry nie en suiwer afhanklik is van skenkings hoop ons om ’n bydrae te lewer in die fantastiese diens wat die DBV lewer en hopelik te help om hul deure langer oop te hou,” het die groep gesê.
Die vertoning begin om 20:00 en kaartjies is teen R100 deur Barnyard-teater by www.barnyardtheatre.co.za te koop.