Flooze gesels oor haar nuwe baba

Sorina Eramus, wat meer bekend is as die Flooze, gesels oor ma-wees en haar planne vir die toekoms.

Die sangeres en aktrise Sorina Erasmus, beter bekend as die Flooze, het op 14 April ‘n pragtige seun ryker geword. Sorina het met Rekord gesels oor hoe haar pienkvoet haar lewe verander het, haar planne vir haar eerste Moedersdag en wat haar aanhangers in die toekoms kan verwag.

Wat is ‘Braambossie’ se volle naam?

Sy volle naam is Abraham Carel Riekert (die vierde geslag). Sy noemnaam is Braam, maar ons noem hom sommer ‘Braambossie’, ‘Brahmaanbulletjie’ of ‘Boeta-Beertjie.’

Jy het onlangs op jou sosiale webwerf vertel van ‘n groot verassing rakende Braambossie. Wat is dit?

Ons het met die nasionale poskantoor onderhandel dat Braambossie se gesig in Junie op posseëls gedruk word. Ons is baie opgewonde en dink dit is die ideale manier om die land aan hom voor te stel.

Hoe het jou slaappatrone verander sedert Braambossie se koms?

Slaap is ‘n woord wat deesdae nie meer in ons woordeskat bestaan nie. Gelukkig is hy ‘n baie voorbeeldige babatjie wat slaap as hy moet slaap en dit maak dinge darem bietjie makliker. Wie ook al die wysheid uitgedink het van ‘slaap wanneer baba slaap,’ moet supergeniaal wees. Ons het juis tot en met die dag voor sy geboorte geslaap soveel ons kon sodat ons in die slapelose nagte darem kan sê ons het laat en lekker geslaap solank ons nog kon.

Het julle al Braambossie se roetine leer ken?

Ek het gou besef dat hoewel ‘n roetine goed is, dit nie ‘n absolute waarborg is nie en dat mens eerder by sy ritme moet inval in plaas van ‘n vaste roetine te volg. In hierdie stadium is al wat hy wil hê: genoeg kossies, genoeg slaap en genoeg mamma- en pappa-liefde en koestering en ons sorg dat hy al drie in oorvloed kry.

Ken jy al Braambossie se verskillende huile?

‘n Mens leer elke dag nuwe truuks aangaande hierdie mannetjie se maniere, dinge en geluidjies. Ek kan wel sê ons weet met sekerheid wanneer dié klein karnallie honger is, want hy skree dan dat die kranse antwoord gee.

Glo jy hy is die mooiste seun op hierdie planeet?

Ja, ‘n duisend keer ja, natuurlik, beslis, vir seker sonder twyfel, absoluut! Soos élke ma dink ek beslis hierdie eiertjie van my is die heel witste. Ek is totaal halsoorkop, dolverlief op hom. Ek en my man kan nie ophou om vir hom te kyk nie en nie ophou om hom te soen nie.

Wat geniet jy die meeste van Braambossie?

As Braambossie wakker word, is hy rustig met soveel vrede dat dit met die mooiste sonsopkoms, wat die dag laat ontwaak, vergelyk. As hy jou vol in die oë kyk, voel dit of hy tot in jou siel se diepste dele kyk.

Watter kenmerke van jou en jou man, Braam, herken jy in Braambossie?

Daar is so baie, te veel om op te noem. Hy is ‘n ewebeeld én toonbeeld van sy pappa. Ek het van die begin af gesê dat ek die geseëndste mens sal wees as ek twee Braambossies in my lewe kan hê en my wens is bewaarheid, want Braambossie junior is sy pa Braambos uitgeknip. Tot die manier hoe altwee slaap, is verbasend dieselfde. Sy lang bene en lang arms is natuurlik alles myne.

Hoe het Braambossie jou as mens verander?

Met elke oomblik en elke asemhaling verander hy my. Ek staan woordeloos verstom om met my nietige menslikheid te besef dat ons God, wat iets so magtig, majestueus en misterieus soos die oseaan geskape het, ‘n mensie so perfek, piepklein en ragfyn aanmekaar kon geweef het. Dit laat my in diepe dankbaarheid besef dat Hy inderdaad die mees meesterlike kunstenaar is wat mens kan kry.

Wat is jou planne vir Moedersdag?

Dit is my eerste Moedersdag en as ek net vir Braambossie die hele dag in my arms kan vashou en pa Braam se hand in myne kan voel, is ek die gelukkigste ma en vrou ter wêreld.

Wat kan jou aanhangers van jou in die toekoms verwag?

Soos ons altyd in die dramawêreld sê: ‘the show must go on’. Hoewel ek nou vir ‘n paar weke af is, begin my eerste vertoning weer op 31 Mei hier in Centurion by Kerksondermure. Daarna volg ‘n aantal vertonings in die Kaap asook Innibos. Verder word daar hard gewerk aan die nuwe album wat na die winter op die rakke sal wees. Ons het ook so pas ‘n nuwe musiekvideo uitgebring waarin onse Braambossie die ‘hoofrol’ vertolk in ‘n liedjie wat ek spesiaal vir hom geskryf het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button