Ryan Walt en Deon van der Merwe span kragte saam om te snoer
Die Spaanse kitaarklanke werk mooi saam met die klanke van 'n panfluit

Wanneer twee van die talentvolste en gerespekteerde instrumentaliste in die land besluit om kragte saam te snoer kan jy maar weet dat die album behoorlik van die rakke sal vlieg.
En wanneer die spesifieke kombinasie van instrumente boonop selde saamgehoor word kan jy glo dat Romanties iets besonders is.
Ryan Walt en Deon van der Merwe, van Touch of Class-faam, ken mekaar reeds die afgelope 22 jaar en deel hul passie vir musiek.
Die strelende kombinasie van panfluit en kitaarduette is iets heel uniek en sal luisteraars wegvoer na ‘n ander veel rustiger wêreld.
“Die Spaanse kitaarklanke werk mooi saam met die klanke van ‘n panfluit. Dit is ‘n unieke kombinasie en sover ek weet is dit nog nooit in die wêreld gedoen nie,” het Deon gesê.
Die album bestaan uit bekende treffers soos Don’t Cry for Me Argentina, Chariots of Fire, Maggie en My Heart Will Go On en is beslis die luister werd.