Egpaar vier hul 50ste huweliksherdenking
‘n Leeftyd se stories begin waar Evert van Nederland na Suid Afrika verhuis.
Evert en Elsa van Doorn het op 28 Desember hul 50ste huweliksherdenking gevier. ‘n Leeftyd se stories begin waar Evert op 30 jarige leeftyd op 17 April 1960 van Nederland na Suid Afrika verhuis.
Hy vestig hom in Pretoria waar hy as timmerman werk. Hy ontmoet Elsa by ‘n kerk jeug-aksie en die twee tree twee jaar later op 28 Des 1963 in die eg. Hul verhuis telkens saam met kontrakteurs om verskeie silo’s in die Vrystaat te bou en vestig hul uiteindelik in Newcastle in 1971.
Uit hul huwelik is drie kinders gebore; Ceel maak sy opwagting in 1965, en Hannes volg in 1967. Hy is getroud met Annelize van Sasolburg en hul het twee kinders: Zanri en Reinhardt. Die enigste dogter, Ansie volg in 1968. Sy is met André Podges van Volksrust getroud en het twee seuns, Gerhard en Bernard.
Evert was tot 1992 by die destydse Yskor (vandag ArcelorMittal) werksaam. Na sy aftrede by Yskor, verhuis die egpaar na Utrecht.
Namens die gesin en familie word hul hartlik geluk gewens. Hulle is vir almal voorwaar ‘n voorbeeld. Nie net om nie so lank getroud te wees nie, maar ook dat hul vir mekaar gespaar gebly het. Baie seën word hul toegewens vir die leeftyd wat hul vorentoe met mekaar sal deel.



