Vaarwel, Vryheid – Ds Jaque Hattingh en gesin groet Vryheid en sy mense
Ons as gesin gaan die gemeente en die gemeenskap hier baie mis, omdat ons so deel voel hier. Tog is ons oortuig dat ons werk nou in Witrivier verder op ons wag. Vryheid Baptiste Kerk en die mense van Vryheid sal altyd 'n baie spesiale plek in ons harte vul.
DS JAQUE Hattingh skryf: “Op 12 Januarie 2010 het ek en my gesin Vryheid ons nuwe tuiste gemaak om die Vryheid Baptiste Kerk en gemeenskap van Vryheid te bedien.
Nou, na vyf en ‘n kwart jaar groet ons Vryheid om Witrivier Baptiste Kerk en sy gemeenskap te gaan bedien. In enige bediening is daar die op en die af, die goed en die sleg, die soet en die suur, maar ons het meer positief as negatief beleef. Hier op Vryheid het ons die liefde van ons gemeente van die begin af beleef. Ons het in ons gemeente mense gekry wat ons werklik bygestaan het, vir ons gebid het en ons ook dikwels bederf het.
As ons dink aan die tye waarin ons die ongelukkigste was, het dit nie te doen gehad met mense wat ons te na gekom het of sleg behandel het nie. Nee, ons hartseer tye in Vryheid was die kere toe ons van ons geliefde gemeentelede moes afstaan aan die dood.
Hier het ons vriende uit verskillende gemeentes gemaak en lekker saam gewerk. Ek dink ook veral aan die die mense wat ons by die Bybelskool ontmoet het en deel van ons vriendekring geword het. Ons as gesin gaan die gemeente en die gemeenskap hier baie mis, omdat ons so deel voel hier. Tog is ons oortuig dat ons werk nou in Witrivier verder op ons wag. Vryheid Baptiste Kerk en die mense van Vryheid sal altyd ‘n baie spesiale plek in ons harte vul.
Vir my broer, Janis Brits, wat by my oorneem om die gemeente vir eers te bedien, asook vir my ander kollegas uit die ander gemeentes bid ons die Here se rykste seën toe. Ons bid dat julle bediening aan die Vryheid gemeentes God verheerlikend, Christus gesentreerd en Heilige Gees gedrewe sal wees.
Vryheid Baptiste Kerk, baie dankie vir al die liefde en ontferming wat julle aan ons bewys het. Baie dankie vir julle gebede en ondersteuning. Dankie aan elkeen vir die harde werk wat julle gedoen het om ons bediening hier te help. Ons het julle baie lief en gaan julle vreeslik mis.
Groete.
Ds Jaque Hattingh en gesin.”



