Ichthus Graad 6 en 7 leerlinge toer na Suid-Kus!
Op Maandag 20 April het 22 leerlinge en 4 volwassenes die lang pad na T.O.Strand aan die Suidkus van KwaZulu-Natal aangepak! Groot opgewondenheid het onder die kinders geheers en die feit dat Drémar Jacobs met ‘n beseerde kleintoontjie die hele toer op krukke meegemaak het, het beslis nie sy geesdrif gedemp nie! Die 2 spanne, …

Op Maandag 20 April het 22 leerlinge en 4 volwassenes die lang pad na T.O.Strand aan die Suidkus van KwaZulu-Natal aangepak! Groot opgewondenheid het onder die kinders geheers en die feit dat Drémar Jacobs met ‘n beseerde kleintoontjie die hele toer op krukke meegemaak het, het beslis nie sy geesdrif gedemp nie!
Die 2 spanne, die Mossels en die Oesters, het van die begin af teen mekaar gekompeteer in alles wat hulle aangepak het. Langs die pad, naby Lion’s River, het hulle by “Groundcover” aangegaan waar die leerlinge dit eerstehands kon ervaar hoe leerskoene van begin tot einde vervaardig word.
By T.O. Strand aangekom is heerlike aandete genuttig en het die kinders die instrukteurs van TVG ontmoet.
Daar is kano geroei, gesnorkel, in die see geswem, sandstede en vlotte gebou waar tevede leerlinge wreed ontnugter is toe hulle vlotte sommer so in die water omgeval het! Spanwerk is ook behoorlik geoefen tydens die hindernisbaan! Die leerlinge het ver ente langs die see gestap in die proses om skulpe te versamel en ‘n skulpidentifikasie-proses te voltooi. Die klimmuur is baie braaf aangepak en Calvin McDonald het daarin geslaag om die instrukteur se tyd vir die op- en afklim te verbeter wat hom ‘n sjokolade in die sak gebring het! Die glydraad ( “Fuffi-slide”) het plesierige gille van Tiana Maritz tot gevolg gehad en Anél de Goede het baie dapper en sonder ‘n geluid besluit dat dit die dag is dat sy hierdie glydraad gaan oorwin!
Die Strand-Olimpiese Spele het 2 kampioene opgelewer: Bianca Meintjes en MacGreiger Stein. Preston Caldecott en Sphesihle Maphalala het as naaswenners uit die stryd getree en net-net in die stof ( of is dit nou sand) gebyt!
Met so ‘n klomp potensiële akteurs was dit nie verstommend dat die laaste aand se kampkonsert vir groot vermaak gesorg het nie! Sommige van die leerlinge was behoorlik moeg na al die avonture; moeg genoeg om behoorlik te slaap en nie die personeel uit die slaap te hou nie!
Die toer is met ‘n heerlike bootvaart op die Umtamvuna-rivier afgesluit waarna die terugtog na Dundee plaasgevind het. Ichthus bedank Mev. Viljoen, Tiley, Catlett en Jacobs wat die leelringe vergesel het. Die Skool waardeer dit baie! Ichthus eer hul Hemelse Vader vir ‘n wonderlike en geseënde toer!



