HEINRICH Harris, van die Hoërskool Pionier, is deel van die SANSSU (Suid-Afrikaanse Nasionale Skole Skuttersunie) se span wat aan die British Junior Internationals in London gaan deelneem gedurende Augustus.
SANSSU het 1200 lede wat deelneem aan kompetisies waaruit slegs 21 skuts by die Nasionale proewe gekies word om te toer. Die kompetisie bestaan uit drie rondtes van 200 punte elk. Daar is drie posisies, lê, staan en kniel.
Heinrich gaan deelneem as ‘n Sporterskut. Hy is ‘n Veer skut wat in sy afdeling eerste geëindig het. Die eerste drie skuts in hierdie afdeling kwalifiseer om saam met die top 15 skuts in die Sporter afdeling SANSSU te verteenwoordig in Engeland. Drie skuts uit die Presisie afdeling gaan ook saam.
Heinrich skiet al vanaf 2009 met ‘n Veer geweer en dit is dus nou ‘n groot uitdaging om met ‘n Sporter geweer te skiet. Heinrich het die naweek van 9 Mei in die sy eerste Sporter kompetisie in Pietermaritzburg deelgeneem en ‘n eerste plek gehaal. 91 Skuts van skole in Newcastle, Pietermaritzburg, Vryheid en Durban het meegeding. Ander Pionier skuts wat ook in hulle onderskeie afdelings sukses behaal het, is Regard van Zyl (eerste), Mari Myburgh en Rinus Wagener (tweede), Johan Harris, Pieter Claassen en Ruan Burger (derde).
Ons kinders is bevoorreg om in ‘n besonderse skool soos Pionier skool te gaan, wat hulle al hierdie wonderlike geleenthede bied.
Ons wil SANSSU se bestuur bedank, in besonder Annerien Snyman vir die hulp wat hulle Heinrich gee met die oorgang van Veer geweer na Sporter geweer en Charmaine du Toit, die Toer bestuurder, wat ongelooflike moeite doen om van hulp te wees met al die reëlings met die paspoort aansoeke tot visums en nog meer. Sy doen moeite om die kinders aan mekaar voor te stel en te hoor wat hulle belangstellings is om die toer vir hulle onvergeetlik te maak.
Ons wil laastens al die persone en instansies bedank, wat reeds Heinrich geborg het, wat dit vir hom moontlik maak om op hierdie toer te kan gaan.



