Leë blikke wat die meeste geraas maak…
Leë blikke, broer, leë blikke……dit vertel my moeilike ou suster daar in die Kaap vir my gereeld as die noodlot ons forseer om met mekaar te kommunikeer, en sy is reg. E

My oorlede ou vader het my destyds van ‘n treffende Afrikaanse spreekwoord vertel, naamlik leë blikke maak die meeste geraas. Dit beteken dat die meeste geraas (lees argumenteer, praat, raas, skel….) kom van die houers met die minste, of geen inhoud.
Dit was gewoonlik gereserveer vir politici in die ou dae wat bekend was vir warm lug rondblaas op ‘n verhoog. Soms kon mens dieselfde sê van studente. Ek het al meer as een keer oor die pad van diesulke slimjanne gestrompel. Hulle het pas afgestudeer, en is swanger van al die wysheid wat hulle in pag het, en skroom nie om dit te deel nie.
Ons gaan dalk maar almal deur hierdie fase, maar nie almal kom weer daar uit nie. Sodra die Universiteit van die Lewe jou fyngekou en weer uitgespoeg het, vat jy daardie predikaat wat jy verwerf het, hou jou bek wanneer nodig, baklei wanneer nodig, en jy vermy blaaskake soos gif.
Blaaskaak. Wat ‘n wonderlike definisie. Dis ‘n Vlaamse woord vir iemand wat verlief is op die klank van sy eie stem, en dit terstond met almal moet deel. In die ou dae was dit maklik om sulke persoonlikhede te vermy, maar moderne tegnologie laat hulle deesdae toe om jou binnekring ongesiens te besoedel as jy nie op jou hoede is nie.
Facebook is deesdae ‘n geliefkoosde voertuig vir blaaskake. Jy kan soms die klank van hul stemme vermy, maar die wysheid wat hulle so mildelik deel, stroom soos semantiese bombardemente oor jou neer.
Gooi gas, doen jou ding, maar loop om die leë blikke. Van hulle het skerp kante, en man wil tog nie streptococcus optel nie, of hoe…??
Ek het ‘n televisiestel vir die eerste keer in my lewe gesien toe ek al in Matriek was, so die nuwerwetse tegnologie van rekenaars het eers so bietjie later gekom. Een van die Admissiestudente in my universiteitskoshuis het ‘n ou Commodore gehad, maar die masjien het my nie aangestaan nie. Bona fide tikmasjiene het baie meer styl en gees gehad.
Vandag is dit ‘n ander storie, en man moes leer saamswem, of versuip. Dis soms tog amusant om te sien hoe liberale kotshandelaars hulle filosofie op die Internet verkoop, en hoe die meer gematigdes hulle aan die kraag vat oor die verbale gifstroom wat hulle produseer.
Daarmee wil ek nie sê dat jy nie jou storie mag praat nie, vadere behoede my tog, maar dat ek die reg het om nie jou semantiese braaksel hoef te verteer, aanskou of in te neem nie. Dit het ‘n poniestert-joernaliswelpie van ‘n soortgelyke braakseltraktaatjie nou die dag agtergekom.
Leë blikke, broer, leë blikke……dit vertel my moeilike ou suster daar in die Kaap vir my gereeld as die noodlot ons forseer om met mekaar te kommunikeer, en sy is reg. Ek is self met ‘n vrou getroud wat deur die Universiteit van die Lewe fyngekou is, en met haar predikaat summa cum laude anderkant uitgeloop het, bebloed, maar met haar kop hoog.
Gooi gas, doen jou ding, maar loop om die leë blikke. Van hulle het skerp kante, en man wil tog nie streptococcus optel nie, of hoe…??
Goeie pad, ou Grote. Sien jou langs die pad.



