Groot droogte vra groot aksie
Om te help wil ons graag elkeen uitnooi om elke Woensdagmiddag van 1nm – 2nm by die kerkgebou te kom bid en God se aangesig te soek in verootmoediging.

Die NG Gemeente Dundee dra die belange van die gemeenskap op hul harte en die droogte het hul tot optrede aangespoor. Hulle kan nie net stilsit nie en sien hoe die droogte besig is om stadig maar seker die hoop van die mense om hulle ook te laat opdroog. Hulle het besluit hulle wil graag iets doen.
Die droogte in KwaZulu-Noord het sy tentakels deeglik in die natuur en die alledaagse bestaan van die inwoners van hierdie gebied ingeslaan. Geen mens kan onthou wanneer laas dit so droog was nie. Sommige mense vergelyk dit met die droogte van 1984 toe daar waterkoepons was. Ander dink aan die droogtes wat voor dit was, self die droogte van 1933.
Wat waar is, is dat ons provinsie en dan by name ons dorp Dundee baie droog is. Groot uitdagings staar ons in die gesig as dit nie binnekort baie goed reën nie. Groot dele van die dorp is vir dele van die dag reeds sonder water. Ons almal voel die droogte reeds aan ons lyf. Die tuine toon deeglik dat dit baie droog is en almal sien hoe hul plante en bome sadig maar seker besig is om agteruit te gaan as gevolg van die droogte. Die munisipaliteit het reeds waterbeperkings ingestel, alhoewel nie almal hul daaraan steur nie.
Die droogte vir ons streek en die land kan vir ons drakoniese gevolge inhou. Reeds is KZN en die Vrystaat tot rampgebiede verklaar. Die droogte wys ook dat die mens regtig nie beheer kan neem oor die natuur nie, alhoewel baie mense so dink en so optree. Dit is uiteindelik net God wat ‘n verskil kan maak, omdat Hy die groot Here is wa tot alles instaat is.
Om te help wil ons graag elkeen uitnooi om elke Woensdagmiddag van 1nm – 2nm by die kerkgebou te kom bid en God se aangesig te soek in verootmoediging. Die kerkgebou sal vir die tyd oopgesluit wees vir elkeen wat graag net wil instap en kom voorbidding doen vir ons land en die droogte. Almal is welkom om net te kom bid. Daar is geen formaliteite nie.
Die kerkgebou is op die hoek van Beaconsfield en Wilsonstraat.



