LMS sê graag op hierdie wyse dankie aan Solidariteit Helpende Hand vir die pragtige skooltasse met inhoud, wat aan die skool geskenk is.
Die inhoud van hierdie tassies spreek van deeglike kennis van die behoeftes van ‘n kind wat sy/haar skoolloopbaan begin. Die sogenaamde “Tassieprojek” het al duisende kinders regoor die land die geleentheid gegee om te kan skoolgaan met ‘n goed-toegeruste skooltas.
Ds Werner van den Heever, voorsitter van Helpende Hand se plaaslike tak, het onlangs dertig tassies aan die Gr 1-leerlinge en hul personeel oorhandig. Die tassies word met liefde uitgedeel. Op hierdie wyse word daar ‘n verskil gemaak!
Mediasentrum: Die skool is in die proses om die mediasentrum op te gradeer en uit te brei. Die projek staan onder leiding van mev Waldi Dicks. Enige persoon of instansie wat graag ‘n bydrae tot hierdie projek wil maak, kan mev Waldi Dicks skakel.
Ysterman/Ystervrou: Verskeie seuns en dogters het reeds ingeskryf vir Lucas Meyer se eie Ysterman/Ystervrou-kompetisie, onder aansporing van mnr André Small. Hierdie is ‘n
wonderlike en opbouende geleentheid vir leerlinge om hul fiksheid te verbeter onder gesonde kompetisieomstandighede. Daar is ook verskeie pryse op die spel.



