NEWCASTLE KZN: In gesprek met ‘n top-presteerder, Izaan van Wyk
Ek dink dis omdat ons elke minuut op Volkies gebruik om ons loopbane daar in volle kleur uit te leef.
Volkies gesels met Izaan van Wyk, top-presteerder 2009, waar sy 6 onderskeidings en 87% as gemiddeld behaal het.
Dit maak haar een van die top-presteerders in die land!
Volkies wil graag weet wat dit is aan Hoërskool Volksrust wat leerders soos Izaan laat uitstyg bo die res of is leerders soos sy maar net baie talentvol gebore …
Gee bietjie meer agtergrond oor waar jy jou tans bevind en waarmee jy jouself besig hou?
Ek en my man en ons nuwe baba dogtertjie is tans woonagtig in ‘n piepklein dorpie in die Klein Karoo. Ons woon buite die dorp op ‘n plaas en geniet die breek van die stadslewe geweldig baie.
Ek is saam met twee ander kollegas in praktyk en werk ook in die staatshospitaaltjie. Ek geniet vroue- en kindergesondheidsorg en waardeer die vye, perskes en appelkooskonfyt wat die boervrouens na die oes vir ons afgee vir bederf.
Hier heers ‘n diepe dankbaarheid in pasiënte en ek geniet dit om werklik ‘n verskil in die gemeenskap te maak.
Was daar ooit enige twyfel in jou hart dat Volkies die skool vir jou is?
Daar is geen twyfel in my hart dat Volkies die skool vir my was nie. Volkies het my blootgestel aan kompeterende sport, kultuur en akademie op groot skool vlak, maar die intimiteit en groei gebied van ‘n klein skooltjie.
Hoekom het jy Hoërskool Volksrust gekies as skool vir jou hoërskoolloopbaan?
Ek het in graad 11 ‘n besluit moes neem om van skool te verander, nadat my vorige skool nie meer Afrikaanse klasse sou aanbied nie.
Dink jy die plattelandse omgewing van Volksrust was tot voordeel of tot nadeel vir jou hoërskoolloopbaan?
Absoluut tot voordeel. As ek dit nou moet opsom in ware Volkies tradisie:
- Jy ken die hoof en onderhoof en sommer die hele skool se onnies persoonlik.
- 200 m’s oefen saam met mnr. Ferreira was darem so effens meer draaglik met die mooi uitsig oor die landskap.
- Elke ouer langs die hokkiebaan wie jy persoonlik ken maak elke wedstryd soveel meer opwindend.
- Elkeen in die dorp moet handbysit as die wedstryde tuis plaasvind.
- Jy ontmoet hartsvriende en -vriendinne met dieselfde waardes, belangstellings en passie.
Wat het vir jou uitgestaan by Volkies oor die 2 jaar wat jy daar spandeer het?
Ek was maar eintlik net bietjie minder as 2 jaar op Volkies, maar as ek wel terugkyk voel dit vir my na ‘n baie langer tyd. Ek dink dis omdat ons elke minuut op Volkies gebruik om ons loopbane daar in volle kleur uit te leef.
Daar is nie een oomblik waar jy nie woeker nie. Daar is nie een na-middag wat jy nie verder uitbou aan ‘n nuwe vaardigheid nie.
Daar gaan nie ‘n dorpsmiddag verby wat jy nie herinneringe maak vir ‘n leeftyd nie, nie eers gepraat van naweek sport en die pret wat daarmee saamgaan nie.
Akademie is sekerlik nie jou enigste talent nie. Het Volkies ander talente wat jy ontvang het ook bevorder of voel jy dat Volkies meer kon gedoen het?
Ek het definitief nie geweet ek kan 200 m, 400 m, 1500 m oefen vir interhoër atletiek en dit nog sommer voor hokkie oefening nie. Ons het omtrent kon woeker met ons sporttalente met ‘n seisoen wat strek van die begin van die jaar tot sommer in September.
Ek het ook glad nie geweet dat ek sou kon vasdans en dit nog so kon geniet as dit nie vir al Volkies se danse en sokkies was nie – praat nou van talente ongin!
My tone was potblou na die eerste dans oor my twee linkervoete, maar die koning-matriekdansers het my oorreed dat ek moet vasbyt.
Verduidelik wat dit vir jou beteken het om by jou ouers te bly as jy ʼn dagskolier was. Verduidelik hoe jy die koshuis ervaar het, as jy ʼn inwoner daar was?
Dit was ‘n groot uitdaging om skielik te moet koshuis toe gaan in graad 11, maar die mede-koshuisvriendinne en onderwysers het die aanpassing vir my vergemaklik en die tradisies van Tienerhof kon ek gou my eie noem.
As ek nou terugdink aan my koshuisdae onthou ek aande vol pret. Dis mos altyd so as jy terugdink dat mens al die kattekwaad en lekkerte daarvan eerste onthou.
Spierwit ice-berg rose voor die koshuis het telkemale gedien vir uitvra of jammer sê gebare. Koer-aande en dorpsdae was altyd ‘n hoogtepunt.
Ek kan boeke vol skryf oor die pallabes van die eetsaal, die kol op my romp oor die jam broodjie wat toevallig met gebed op my romp beland het, die hope peanut butter en stroop broodjies wat ons verslind het selfs na ons borde leeg geëet was en al die geselsies voor die koshuis voor studie begin.
Tienerhof-my trots!
Contact us
WhatsApp: 082 874 5550
Email: Reveshni Douglas (Editor) at reveshni@caxton.co.za
Make sure you follow us for regular updates:



