Gelofte van Bloedrivier word op erfenisterrein herdenk in Desember
Die Gelofteherdenking bring geskiedenis, geloof en gemeenskap saam en gee almal 'n kans om die moed en toewyding van die Voortrekkers te eer.
Die jaarlikse Gelofteherdenking by die Bloedrivier-erfenisterrein naby Dundee beloof om weer ‘n betekenisvolle terugblik op Suid-Afrikaanse geskiedenis te wees.
Die herdenking verwys na die Slag van Bloedrivier op 16 Desember 1838, waar ‘n klein groepie Voortrekkers hulle teen ‘n veel groter Zoeloe-leër verdedig het. Kort voor die geveg het hulle die Gelofte van Bloedrivier afgelê – ‘n belofte om die dag as dankdag te herdenk en ‘n huis van aanbidding te bou.
Die terrein is vandag ‘n museum met monumente en uitstallings wat die verhaal van die Voortrekkers en die slag illustreer. Besoekers kan die plek van die oorspronklike Gelofte sien, deur die museum stap en die brons-walaer en granietmonument bewonder wat die laer voorstel.
Die herdenking is nie net ‘n terugblik na die verlede nie, maar ‘n tyd vir families en gemeenskappe om saam te kom en hul kultuur en erfenis te vier.
Kampeergeriewe, ‘n restaurant en ‘n geskenkwinkel maak dit moontlik vir besoekers om die dag op die terrein deur te bring en die betekenis van die Gelofte te ervaar.
Die Gelofteherdenkingsprogram is as volg:
Sondag, 14 Desember:
18:00 – Afvuur van kanon in laer.
19:00 – Historiese film in saal.
Maandag, 15 Desember:
07:30 – Perdekommando vertrek vanaf De Jagersdrift.
10:30 – Kommando arriveer en vlaghysing.
11:00 – Boeresport.
13:00 – Middagete.
14:00 – Volkspele.
16:00 – Perdesport.
19:00 – Lanternloop, Gelofte aflê en kanonskoot.
20:00 – Boere-sokkie.
Dinsdag, 16 Desember:
06:00 – Biduur in die walaer deur Francois Schutte.
08:30 – Voorsang in die saal.
09:00 – Erediens in die saal deur Ds Bennie Marais (NG leraar, Charl Cilliers Gemeente).
10:30 – Gaskunstenaar – Elschanté Bouman, Perdekommando en vlagvoorstelling, Kranslegging en Gelofte-afleggings, Vertelling en kanondemonstrasie.
Navrae kan gerig word aan: Judean by 065 549 6681, Martiens by 083 299 1213 of Johan by 082 320 4133.
HAVE YOUR SAY: Like our Facebook page, follow us on Twitter and Instagram or email us at [email protected]. Add us on WhatsApp 071 277 1394.



