Befaamde historikus en skrywer publiseer derde boek
Dis ‘n reis deur vriendskap, oorlog en kameraadskap waarmee Tommie Ferreira sy lesers met sy ryke nalatenskap agterlaat
André van Ellinckhuyzen is teen hierdie tyd al ‘n gesoute en welbekende skrywer nadat hy onlangs sy derde boek, ‘Tommie’, die lig laat sien het. André se skryfwerk is uniek en neem die leser deur realiteit, fiksie en nostalgie. Ontmoet vir Tommie Ferreira, ‘n pas klaar geskoolde plattelandse seun wie se grootste ambisie is om ‘n vegvlieënier te word. Soos enige jong man, gaan Tommie deur verskeie emosies wanneer hy sy eerste liefde, Millie Henn ontmoet. In die boek, maak Tommie kennis met heelwat ‘eerstes’ wanneer hy die huis op ‘n brose ouderdom van skaars 18 jaar oud, verlaat. Die leser reis deur die 1930’s van oorlog, ‘Tiger Moths’ en die ‘Fairey Battle’ tot ‘n skeepvaart na Oos-Afrika. Dis ‘n reis deur vriendskap, oorlog en kameraadskap waarmee Tommie Ferreira sy lesers met sy ryke nalatenskap agterlaat.
André vertel, “My inspirasie om hierdie pragtige storie te skryf is die volgende. ‘n Hartverskeurende brief vanaf ‘n lugmag offisier, gerig aan die ouers van ‘n lugmag vlieënier, kort na die dood van die vlieënier, in Oos-Afrika, tydens die Tweede Wêreldoorlog. Die boek het my byna ‘n jaar en drie maande geneem om na te vors en te skryf.
Tans word Tommie na Engels vertaal en sal ‘Tommy’ waarskynlik aan die einde van Mei 2025 vir die Engelse lesers beskikbaar wees.
Ek doen my eie bemarking en my eie verspreiding om sodoende ‘n puik lees produk teen ‘n bekostigbare prys aan lesers beskikbaar te stel.
Vir die professionele regie en uitleg bedank ek vir Terri du Plessis. Die voorblad van die boek is ‘n puik skildery deur ñ vriend in Auckland, New Zealand, Mike Barber.”
‘n Voorsmakie vanuit die boek wat lesers kan verwag: ‘Majoor van Pittius se kop en lyf ruk van skrik wanneer sy kamerdeur skielik oopvlieg. In die deur staan die eskader se kapelaan, kaptein Kelly. Lelie wit. “Majoor, dit is Frikkie en Ronald,” sê Kelly geskok. “Hulle het nie huistoe gekom nie!”’
‘Tommie’ is in liefdevolle herinnering aan André se pa, Andreas Roelof van Ellinckhuyzen opgedra.
Skakel André op 083 254 5528 vir ‘n kopie van ‘Tommie’.
ALSO READ: Dina’s story comes to life; from Facebook posts to bestseller
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



