Local newsVryheid Herald

Formidabele beroepsvrou se gedigte deel van nuwe digbundel

Annatjie is glad nie ‘n nuweling wanneer dit by skryf kom nie.

Vryheid is geseënd met ‘n verskeidenheid van talentvolle mense, hetsy dit in die vorm van sport of kreatiewe skrywers is. Een van hierdie ‘weggesteekte juweeltjies’ is Annatjie Venter. Annatjie is glad nie ‘n nuweling wanneer dit by skryf kom nie, inteendeel, sy het reeds twee vorige boeke gepubliseer. Maar daar is onlangs nog ‘n digbundel ‘Kollektief’ wat vyf van haar gedigte bevat, gepubliseer wat deur ‘Waarheid Boeke’ uitgegee is. Die bundel is ‘n samestelling van verskeie ander digters se werk. Annatjie staan nie voltyds in die beroep as skrywer nie, inteendeel word sy daagliks uitgedaag in ‘n vining bewegende en uitdagende beroep as onder andere Finansiële Bestuurder. Annatjie wend haarself na haar skryfwerk wanneer sy ‘n kreatiewe uitlaatklep benodig. Die idee van die digbundel ‘Kollektief’ het vanuit ‘n groep waaraan sy behoort gespruit. Dit is tydens een van hierdie gesprekke waar die stigters van die groep besluit het om ‘n digbundel uit te bring. Annatjie se kortverhaalbundel, ‘Vensters van jou hart’ is in 2020 deur ‘Mar-Leo Publiseerders’ uitgegee en is reeds in die proses vir ‘n herdruk. Haar christelike digbundel ‘Woord Vreugde – ‘n Digbundel ter ere van God’ is ook deur ‘Mar-Leo Publiseerders’ uitgegee. Verskeie van Annatjie se gedigte en stories is al op Waarheidradio, Sondae tussen 16:00 en 18:00, voorgelees deur Floris van Zyl. Die digbundel ‘Kollektief’ kan aangeskaf word deur Magda de Korte, kontaknommer 076 845 7980. Annatjie het die volgende gedig na aanleiding van Paasfees geskryf:

Van Brood tot Lewe

Hy breek die brood —
soos ? hart wat weet
verraad sit aan dieselfde tafel.

Wyn vloei soos son oor wonde,
’n rooi verbond
vir dié wat dors na genade.

’n Soen —
gladder as slangvel,
verkoop Hom vir silwer
wat swaar aan skuld hang.

In Gethsemane sweet Hy bloed,
bid soos vuur teen die nag.
Sy vriende slaap.
Die wêreld draai.

Spykers sing in hout,
en Hy hang —
’n mensgeworde storm,
tussen hemel en hel.

Dood hou asem op.
Die wêreld staar.

Maar toe —
’n asem ruk die graf oop.
Lig breek soos donderweer:

Lewe,
nuut en onverslaan.

(C) Annatjie Venter

2025

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button