Local newsVryheid Herald

Vryheid in Dorp van die Jaar-kompetisie

Vryheid is ’n streekfinalis en inwoners word aangemoedig om te stem.

Vryheid is as streekfinalis aangewys in die gewilde kykNET-program Kwêla se Dorp van die Jaar-kompetisie vir die KwaZulu-Natal-streek, en inwoners word nou aangemoedig om hul stemme te laat tel.

Stem nou en maak ’n verskil

Die insetsel oor Vryheid is Sondagaand op televisie uitgesaai, en die gemeenskap kry tans die geleentheid om ’n verskil te maak deur vir hul dorp te stem. Inwoners kan “VRYHEID” SMS na 33157. Elke SMS kos R1,50, met ’n maksimum van 30 stemme per nommer. Stemlyne sluit op 1 Mei om 12:00.

Hoe die kompetisie werk

Die kompetisie is oop vir dorpe in Suid-Afrika en Namibië met minder as 500 000 inwoners, mits hulle nie in die afgelope twee jaar as streekwenners aangewys is nie. Uit elke streek dring die drie dorpe met die meeste benoemings deur na die semi-finale rondtes, waarna die publiek vir ’n week lank die kans kry om vir hul gunsteling te stem.

Pad na die nasionale eindronde

Die dorp met die meeste stemme in elke streek word as finalis aangewys en dring deur na die nasionale eindronde. In hierdie fase besoek die span van Kwêla elk van die nege finaliste om insette te verfilm wat later op televisie uitgesaai word.

Wanneer word die wenner aangekondig?

Nadat al nege dorpe uitgesaai is, sal die publiek van 12 Julie om 19:00 tot 17 Julie om 12:00 vir die algehele wendorp kan stem. Die wenner van die kompetisie sal, indien alles volgens plan verloop, op 2 Augustus 2026 aangekondig word.

Groot pryse op die spel

Die wendorp ontvang ’n indrukwekkende bemarkingsprys ter waarde van R1 miljoen van kykNET. Daarbenewens sal ’n professionele 45-sekonde advertensie oor die dorp vervaardig word, wat op die kanaal uitgesaai sal word. ’n Feesviering met musiek, kos en vermaak word ook in die wendorp aangebied en verfilm vir latere uitsending.

Kontantprys vir gemeenskapsontwikkeling

Verder skenk Lottoland ook ’n kontantprys van R1 miljoen, wat in die dorp teruggeploeg moet word. Finaliste moet vooraf ’n besigheidsplan indien oor hoe dié fondse aangewend sal word.

Gemeenskap se stem maak die verskil

Met die kollig nou op Vryheid, lê die krag in die hande van die gemeenskap om hul dorp na die volgende rondte, en moontlik na die wenkroon, te stem.

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button