Moenie fout met alles soek nie
Mevrou – Toe gaan ek weer na die Newcastle Kliniek toe om my medikasie te kry. Ek en my man het vroeg-vroeg die pad gevat soontoe en was ek gelukkig om eerste in die ry te sit. Die saal waar pasiënte sit om gehelp te word, was heerlik warm en die gesels was opmerklik onder …
Mevrou – Toe gaan ek weer na die Newcastle Kliniek toe om my medikasie te kry.
Ek en my man het vroeg-vroeg die pad gevat soontoe en was ek gelukkig om eerste in die ry te sit. Die saal waar pasiënte sit om gehelp te word, was heerlik warm en die gesels was opmerklik onder mekaar. Sommiges was Zulu-sprekend ander Afrikaans en Engels.
Dit is toe dat die Susters uit elke kantoor kom en in ‘n ry gaan staan voor die pasiënte en geestelike liedere sing. Dit was absoluut pragtig. Een suster het vir ons gelees uit die Bybel en toe gebid. Ek neem aan dat sy die hoof-suster is. Ek het my oë gesluit en saam het ons gebid, uit een mond. Saam het ons ons oë toegemaak en tot die Almagtige Vader gebid. Hy was waar Hy altyd was, by jou, by elkeen.
Toe gee een van die ander Susters ‘n lesing oor Vigs. Eers het sy dit in Zulu gedoen en toe in Engels sodat almal dit verstaan. Waar die siekte oorgedra word, hoe dit versprei word en waar dit kan eindig. Wat jy as S.A. burger kan doen om dit te voorkom, en wat jy moet doen sou jy dit alreeds het. Ook het sy bygevoeg; jy kan dit kry of jy nou arm is of jy ryk is. Daar is nie grense nie.
‘n Ander Suster gee toe ‘n lesing oor Tuberkulose. En weereens dieselfde. Hoe dit aangesteek kan word, wat jy moet doen om dit te voorkom en om altyd vars vrugte en groente in jou dieët te hê. Weereens het het sy beklemtoon dat jy die siekte kan kry of jy ryk is en of jy arm is. Elkeen in die samelewing is blootgestel daaraan.
Ek wens elkeen in Newcastle kon hierdie oggend beleef en ervaar. Oor hoe goed ons mediese personeel by die kliniek hul werk ken. Dit is hoe ek die nuwe Suid-Afrika nog altyd wou beleef en nou kyk ek met ander oë na ons pragtige land en sy mense.
Moenie gedurig fout met alles soek nie, maar gaan doen self die werk en voel hoe dit voel om in alles wat jy doen, gekritiseer te word en dit terwyl jy jou werk goed doen. Ek sit ‘n veertjie in die personeel van die kliniek se hoed; hulle verdien dit oor en oor.
Gaatzi Goobi



