
Mevrou – Dit is ‘n verskriklike hartseersaak dat daar mense is wat nie na hul diere kan omsien en versorg nie.
As ek na die hond met die kanker kyk, kan ek amper die seer in sy oë sien soos hy omkyk na agter op die foto in verlede week se koerant.
Die hond wat in ‘n hok erger as ‘n vullishoop vir ‘n hok en blyplek moet bly, kan ek net myself in sy plek indink hoe die stank en geen plek om ordentlik te kan lêplek vind nie, moet wees. Dan is dit darem nie te verskriklik om klein babahondjies in ‘n koffer sommer net iewers te los en weg te stap nie!
Ons het ‘n dierebeskermingsvereniging in Newcastle wat goed na diere kan kyk. Hoekom ‘n dier aanhou of weggooi soos ‘n stukkende voos ou vloerlap net waar jy wil? Wie sal weet, of beter nog, niemand gaan weet dit is jy nie.
Nie ver van my huis af nie blaf daar honde in ‘n leë motorhuis net sodra die son sak. Hul geblaf kry nie einde nie. Miskien moet ek en my gade een aand gaan stap en hul plek uitsnuffel sodat hul ook verlos kan word van onmenslike wreedheid. Ek kan die honde se vrees vir die alleenheid en donker en dalk sonder kos nie verdra nie. Dink net hoe verheug moet hierdie honde wees sodra hul eienaars hul oopmaak en hulle weer die son kan sien skyn!
Word wakker mense! As jy iets sien of waarneem, gee dit aan sodat ons nie van sulke gevalle in die koerant hoef te lees nie!
Gaatzi Goobi



