
Mevrou – In hierdie land kry mens nie sommer werk nie, al is jy hoe goed opgelei en het die beste CV vir voorlegging.
Jy loop jou laaste paar skoene se sole behoorlik deur van deur tot deur jou CV in te handig. Jy kyk verby die voorste toonbank en jou hande jeuk vir die werk wat jy sien in die werkswinkel gedoen word. Hier is die werk wat jy nou kan doen en behoorlik kan doen!
Maar nee, die antwoord bly dieselfde, as jy teen die soveelste van die maand nog nie van hulle gehoor het nie, moet jy aanvaar dat jou aansoek onsuksesvol was.
Uiteindelik kry jy werk met die vooruitsig dat jy na drie maande vas aangestel sal word as jou werk goed gedoen word. Jy werk hard, kom nooit laat nie, jy vat nie sommer dae af oor niks nie; jy doen behoorlik jou bes!
Drie maande kom en gaan. Die werkgewers bly tjoepstil oor jou vaste aanstelling. Jy hoor by sommige van die werknemers dat dit maar so gaan. As jy vir hulle te veel opdraende gee oor ‘n vaste aanstelling, steek hulle jou in die pad.
Nee, daar is nie ‘n opening op die oomblik nie, jy moet maar gaan, of maar so bly voortploeter as ‘n tydelike werker.
Dit is hoe die werkgewers van die land mos te werk gaan. So hoef hulle nie Jan Taks te betaal nie en kom nogal vry daarvan af! En dan, jy wat nog net ‘n ‘tydelike’ pos beklee kan nie ‘n pensioen opbou vir jou oudag nie.
Al is jy nog jonk, moet ‘n mens mos jonk begin om aan jou oudag te begin dink! Boonop kan jy nie ‘n mediese fonds bekostig teen die karige salaris wat jy verdien nie.
Jou kinders moet gebuk gaan onder die juk van ‘gratis’ skoolgelde, want jou salaris is amper nie genoeg vir die piepklein blyplekkie nie. Jou gordel moet jy behoorlik intrek wat kos-aankope aanbetref, want elke maand verhoog kospryse.
Jou kinders se klere moet hulle kry by ander mense wat sien jy sukkel om kop bo water te hou. En glo vir my, kinders is trots, al word hulle hoe sleg behandel deur die samelewing. Kinders is ook wreed teenoor hierdie kind wat so deur die samelewing behandel word.
Nou wil ek voorstel dat daar ondersoek ingestel word oor hierdie geldwolwe, wat eintlik ander besteel, onder andere Jan Taks en die arme ‘tydelike’ werker. Na wie toe gaan hierdie werknemer?
Na ‘n unie toe kan hulle nie gaan nie, want hulle word gou ingelig deur die ander werkers, dat sou jy by ‘n unie aansluit, jy nog vinniger jou pos sal verloor! Intussen wil ek aan elke werknemer sê; dit juis dan dat hulle jou nie kan afdank nie!
Gaan sluit by ‘n unie aan.
Die bangmaakstorie dat jy jou pos kwyt kan wees, is net afpersing. En afpersing is een van die laagste en gemeenste maniere om jou naaste te behandel!
Voorspoed met jou toekoms, liewe werknemer.
Gaaitzi Goobi



