BlogsOpinionVryheid Herald

’n Tand, ’n tang en totale emosionele uitputting

’n Humoristiese maar eerlike blik op vrees, uitstel en ’n tandartsbesoek wat nie meer kon wag nie.

Almal het ’n vrees. Party mense het net een, ander het sommer ’n hele lys. Hoogtes. Knap spasies. Slange. En dan… die tandarts. Myne sit nie eers op die lys nie, hy IS die lys.

’n Tand wat hoop misbruik

Ek moes onlangs my vrees vir die tandarts in die gesig staar. En soos ’n opregte volwassene het ek dit natuurlik so lank as moontlik uitgestel. Ek het vroeg in November ’n tand gebreek en dadelik besluit om dit te ignoreer. Ek meen, daar was mos ’n kans dat die tand homself sou fix. Of uitval. Of net besluit om niemand te pla nie. Hoop is ’n gevaarlike ding.

Desember se verskonings

Was ek verkeerd? Ja. Baie verkeerd.

In Desember het die ongemak begin. Nie eers pyn nie, net daai irriterende gevoel wat jou elke vyf minute herinner iets is fout. Maar dis feesseisoen, en wie pla nou ’n dokter in Desember? Of dis nou die storie wat ek myself vertel het. Die waarheid is: ek wou nie gaan nie. Ek het besluit Januarie is ’n beter maand vir sulke dinge.

Januarie slaan terug

Januarie het ander planne gehad.

Sommer vroeg in Januarie het die tand begin kla. Hard. Teen daai tyd was hy los, seer en beslis nie meer bereid om saam te werk nie. Ek skraap moed bymekaar, bel en maak die gevreesde afspraak.

’n Engel by ontvangs en ’n martelstoel

Die ontvangsdame is ’n absolute engel. Die dokter nog meer. Hy spot selfs toe hy my sien en stel voor ons moet eerder Wimpy toe gaan vir ’n Cream Soda float. Hy weet. Hy weet ek is bang vir hom op ’n onrealistiese vlak. Dokter Tande is opgeruimd, vrolik en probeer grappies maak om my te kalmeer.

Ek sien geen grap nie. Ek sit in ’n martelstoel.

Wanneer stilte nie goeie nuus is nie

Sy grappies hou egter nie lank nie. Toe hy eers mooi kyk, raak hy stil. Dis nooit ’n goeie teken as ’n dokter stil raak nie. Hy waarsku my sommer dadelik: hierdie gaan ’n mission wees. In my kop begin Mission Impossible speel. Ek sien Tom Cruise wat aan ’n tou uit die dak sak met ’n tang, reg op my oopgesperde mond af.

Panic mode geaktiveer

Ek knyp my oë toe en probeer aan iets anders dink. Ek dink selfs aan my issues met SARS, want op daardie stadium klink SARS vir my soos ’n breeze.

Intussen haal Dokter Tande al die vierde tang uit. Vier. Ek voel niks seer nie, maar ek voel alles emosioneel. Dit voel soos ’n cartoon waar iemand bo-op jou klim met ’n kettingsaag en ’n hydraulic drill. Ek maak dreigemente. Ek huil amper. Hy spuit my mond so dood dat dit voel asof my gesig op my skouers lê. Ek kan voel hoe hy ruk en pluk, maar daai tand? Nee. Hy weier. Hy’s vasberade.

’n Rugbystryd in my mond

Die trane lê vlak. Nie oor pyn nie. Oor die gedagte. Oor die idee van wat besig is om in my mond aan te gaan. My brein is lankal in panic mode.

Terwyl die dokter die tand probeer uittrek, voel dit soos ’n volle rugby maul tussen my en hom. Hy trek, ek lê vasgepen, en daai tand hou aan soos ’n stut wat weier om grond toe te gaan. Ek sweer, as daar ’n fluitjie was, was dit lankal ’n strafskop.

En toe, skielik, is dit verby.

Net so. Tand uit. Ek leef. Ek het nie geskree nie. Ek het nie gebyt nie. Ek het nie iemand gedagvaar nie. Ek lê net daar, emosioneel moeg, effens verneder en baie trots op myself.

En dis toe ek besef: vrees is snaaks. Dis luid. Dis dramaties. Dis baie groter in jou kop as in die regte lewe. Maar soms moet jy net in die stoel gaan sit, jou oë toeknyp en die music face.

Sal ek weer die tandarts uitstel volgende keer? Waarskynlik.

Het ek hierdie battle gewen? Absoluut.

En nee, ek het steeds nie Wimpy toe gegaan vir die Cream Soda float nie. Maar ek voel ek het dit verdien – it is what it is!

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button