BlogsLifestyleVryheid Herald

’n Tas vol stories en ’n bietjie seer

Reflekteer op die jaar, laat die pyn gaan en dra net vreugde vorentoe.

Die einde van die jaar is letterlik op die punte van my toonnaels. Soos in ‘n vorige skrywe, is almal moeg en energievlakke is laag. Maar dis dan ook die perfekte tyd om die jaar se bagasie uit te pak. Want ons is mos geneig om alewig daardie tassie met ons saam te dra, en deur die jaar moes ons alles wat ons nie wil laat gaan nie, in die tassie druk. Die issues hang al by die kante van die tas uit, maar vasklou, die doen ons mos die beste!

Hierdie jaar gaan anders wees, of altans, dit moet anders wees… ‘n Mens wil tog nie elke nuwe jaar met ‘n reeds vol tas begin nie. ‘n Mens moet tog uitpak en kyk wat is te klein (die tipiese klein jakkalsies) en wat is te groot (die situasies wat nie meer voldoende is nie). Ek kyk terug en daar is dinge wat hierdie jaar geskaaf het, dit het seergemaak, maar hier staan ek; dit wat seergemaak het, het nie dood gemaak nie. Dis tyd om daardie seer te laat gaan… een ding minder wat die tas laat oorloop.

Dan onthou ek die situasie waarin ek was, die ongemaklikheid, die foute en die herinneringe wat my elke keer my kop in skaamte laat sak het. Maar dis verby; weer staan ek hier. Dis tyd om daardie verleentheid te laat gaan. My tassie het nie meer plek daarvoor nie. Die ideaal is natuurlik om met ‘n leë tas die nuwe jaar in te stap, maar soms is dit nie altyd moontlik nie. Daarom is dit belangrik om met die minste moontlike goed in jou tas daardie sprong oor die tydlyn te maak.

En tog, nie alles in die tas is swaar nie. Daar is ook die klein oomblikke van lig, van vreugde, van onverwagse geluk wat tussen die seer en die frustrasie vasgevang sit. Die lag van ‘n vriend wat jou uit jou gedagtes ruk, ‘n kompliment wat jou laat glimlag, daardie klein oomblik van trots toe jy jouself oortref het en jy dink by jouself: “Hey, ek het dit reggekry!” Dit is dié goedjies wat die tas nie swaarder maak nie, maar lig. Dis wat jou dra selfs al is alles anders moeilik. Ek dink die sleutel is nie om te probeer om alles perfek te organiseer nie, of om die tassie te pak soos jy dink dit moet wees nie.

Dis om te erken wat jou laat swaar dra en wat jou tassie ligter maak. Om die bagasie wat nie meer ‘n plek in jou lewe het nie, neer te sit. Om die bagasie wat jou lig laat voel, styf teen jou vas te hou. En dis goed genoeg. Dis genoeg om die jaar af te sluit, die tassie ligter te maak en die nuwe jaar in te stap met plek vir nuwe herinneringe… nie net vir seer nie, maar ook vir die vreugde wat wag… bring jou tassie, ons kan hom saam leeg maak… It is what it is!

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button