Amper 50: ’n Reis van refleksie en aanvaarding
Amper 50: refleksies oor ouderdom, liggaam, gees en die subtiele tekens van verandering.
Die aanhangsels was nog bitterlik klein toe ek die somme begin maak het oor watter een hoe oud sal wees en wanneer elkeen klaar met skool sou wees. Ek het selfs die spesifieke som gemaak om uit te werk hoe oud ék sal wees, net om te sien of ek nog fut vir die lewe sal oor hê wanneer die laaste een matriek skryf. Dit voel soos jare gelede wat ek daardie somme gemaak het. En hier is dit nou. Die groot 5..0.. staar my vierkantig in die gesig. Dis nie asof ek nie geweet het dit kom nie… ek bedoel, dis onafwendbaar. Maar nêrens het ek in berekening gebring hoe vinnig dit sou gebeur nie.
Subtiele tekens van ouderdom
Maar die waarheid is, om amper 50 te word begin lank voor die dag wat jy die kerse moet uitblaas. Dit begin subtiel. So subtiel dat jy dit amper mis. Jy hoor jouself iets sê soos: “Ek onthou nog toe…” en skielik besef jy daardie storie is 20 jaar oud. Jy begin verwys na musiek as ‘die goeie ou dae’, en die jonges kyk jou skeef aan terwyl jy jou Voortrekkerkappie regskuif. Ek voel nie amper 50 nie… maar die tekens is daar. Loud and clear. Hulle flits soos neon ligte.
Die liggaam herinner jou
Maar dan herinner my lyf my. Nie dramaties nie, net… anders. Jy staan op en alles vat ’n sekonde langer om saam te werk. Jou knieë onderhandel eers voordat hulle buig. Jou rug maak geluide wat nie eens in ’n woordeboek bestaan nie. Jy begin strategieë ontwikkel… nie hoe om vinniger te wees nie, maar hoe om minder seer te kry. En jou oë… ai, jou oë. Skielik is die arm te kort vir die fynskrif. Jy skuif iets nader, dan verder, dan weer nader… tot jy uiteindelik net ’n bril koop en vrede maak daarmee.
’n Geestelike en emosionele transformasie
En tog… tussen al die neon tekens, is daar iets anders ook. ’n Rustigheid. ’n Aanvaarding. Jy begin besef dat jy nie meer alles hoef te weet of te bewys nie. Jy kies jou gevegte. Jy lag makliker… veral vir jouself. Dus is dit nie net fisies nie. Dis ook die manier hoe jou kop begin werk. Jy begin anders dink oor tyd. Nie meer net ‘wat volgende’ nie, maar ook ‘wat nog?’.
Balans vind tussen paniek en vrede
Jy begin mense anders waardeer. Jy hou nie meer vas aan klein goedjies nie. Jy besef hoe vinnig alles verander… kinders wat groot word, ouers wat stadiger raak, vriendskappe wat skuif en aanpas. En iewers tussen dit alles begin jy ’n vreemde balans vind. Tussen paniek en vrede. Tussen ‘waar het die tyd heen gegaan?’ en ‘ek het darem geleef’. Miskien is 50 nie ’n einde of ’n begin nie, maar net ’n plek waar jy uiteindelik gemaklik raak in jou eie vel… plooie, pyn en al.
Amper 50 is nie ’n skok nie, dis ’n proses. Een wat stil-stil insluip tot jy een dag besef jy staan alreeds met albei voete daarin. En as jy mooi kyk, is dit nie so sleg soos jy gedink het nie. Skink die tee, smokkel die skeutjie gin in die koppie in en smile – it is what it is.
The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.



