BlogsVryheid Herald

Welkom by die ouderdom van besems en bargains

Wanneer 'n besem jou dag maak, weet jy die lewe het verander.

Ek het nou die dag in ‘n huiswarewinkel gestaan. Nie omdat ek moes nie. Omdat ek wou. En daar staan ek… vir seker vyf minute… en bewonder ‘n besem.

Nie sommer enige besem nie. Een met so ‘n fancy handvatsel wat glo jou rug spaar. Ek tel hom op. Swaai hom so twee keer in die lug rond soos iemand wat hom gaan toetsbestuur – pun intended.

Toe sê ek die koeël-is-deur-die-kerk-woorde: “Dis nou ‘n lekker besem dié.” Ek wou myself eintlik ‘n klap gee. Want daar was ‘n tyd wat ek winkels binnegestap het op soek na skoene. Of ‘n mooi baadjie. Of iets wat blink. Nou raak ek opgewonde oor skoonmaakgoed. Wanneer het dit gebeur? Ek weet nie. Niemand waarsku jou nie.

Daar is nie ‘n seremonie waar hulle jou jongmenskaart vat en vir jou ‘n Clicks Advantage-kaart en ‘n gunsteling Tupperware-bakkie oorhandig nie.

Dit gebeur sommer stil-stil.

Eers koop jy ‘n mooi houerstel ‘vir die kombuis’.

Toe begin jy die weer-app drie keer ‘n dag check. Nie omdat jy strand toe gaan nie, maar omdat die wasgoed buite hang.

Dan begin jy vir mense sê: “Ry veilig.” En jy bedoel dit actually.

Jy raak ongemaklik as iemand sonder ‘n trui in die winter uitgaan.

Jy raak opgewonde as daar ‘n special op toiletpapier is.

Nie net opgewonde nie.

Jy vertel ander mense ook daarvan.

“Moenie vandag Woolies toe gaan nie, Checkers het ‘n beter deal.”

En hulle luister.

Want hulle is ook op daai stadium van hulle lewe.

Dan is daar die ligte.

Ek weet nie wanneer elektrisiteit persoonlik geraak het nie, maar deesdae stap ek deur die huis en skakel ligte af soos iemand wat ‘n bonus kry vir elke skakelaar wat af is.

Die aanhangsels glo blykbaar die huis behoort snags soos ‘n lughawe te lyk.

En moet my asseblief nie alleen in ‘n huiswarewinkel los nie. Ek sal vir jou die verskil tussen drie moppe verduidelik met die passie van iemand wat ‘n TED Talk aanbied. Dis nie ‘n talent waarop ek trots is nie.

Maar hier is ons.

En die ergste?

Ek geniet dit.

Ek geniet dit as ek ‘n parkeerplek reg voor die winkel kry.

Ek geniet dit as ek vroeg by die huis is.

Ek geniet dit as iemand vir my sê daar is ‘n special op waspoeier.

Dis opwindend.

Ek dink dis toe ek besef het ouderdom gaan nie oor die nommer op jou verjaarsdagkoek nie. Dit gaan oor die dag wat jy opreg opgewonde raak oor goed wat jou 25-jarige self sou laat lag het.

Een van die dae word ek 50. Ek sal waarskynlik nog steeds dink ek is jonk… net met ‘n goeie besem, goedkoop toiletpapier en ‘n parkeerplek naby die winkel. En weet jy wat? Ek sal dit vir niks verruil nie – it is what it is.

The news provided to you in this link comes to you from the editorial staff of the Vryheid Herald, a sold newspaper distributed in the Vryheid area.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Northern Natal News in Google News and Top Stories.

Carlien Grobler

A community-based journalist at Vryheid Herald since 2019, reporting on everything from hard news to human interest stories and sports, keeping the community informed

Related Articles

Back to top button