Courier at the movies – Hoener Met die Rooi Skoene
Dis nie fantasie of spaghetti-snaaks nie, en ook nie 'n storie oor feëtjies nie

Die Hoenerding is nogal iets. As ons nou bloedeerlik moet wees, is dit eintlik net iets vir Liz Meiring-aanhangers, hierdie fliek. Maar ek het nogal daarvan gehou.
Dis nie fantasie of spaghetti-snaaks nie, en ook nie ‘n storie oor feëtjies nie. Nee, dit gaan oor die skuurwol-karakter Bonnie van der Byl, wat deur Lizz Meiring vertolk word, en dit op haar eie unieke manier.
Daar’s ‘n skel papagaai en lopende lyke, met messe in die rug, mense met moorddadige gedagtes en donker figure in geheime gangetjies. Heerlik.
Bonnie praat almal se ore seer, en die polisieman wat die saak moes kom ondersoek, is ‘n loopneus Louw Venter, wat eerder ‘n liegstorie oor ‘n vrou en vyf dogters vertel as om Bonnie van der Byl te trotseer.
Die verhaal speel af in die kantore van ‘n teateragentskap, en ontplooi in ‘n lekker whodunnit, met allerhande ou geheimpies en dinge. Gaan koop solank die popcorn en die Coke.
Jy sal daarvan hou, maar jy moet eers vir Bonnie van der Byl trotseer. Lekkerte.



