Twee reeds vas na rooftog en ontvoering van ma en dogter
Die soektog na die twee vroue het Maandag tragies geeïndig toe hul liggame in 'n oop myn in die Eikenhof-omgewing gekry is.
Twee verdagtes is reeds deur die polisie in hegtenis geneem na die rooftog en ontvoering van ‘n bejaarde vrou en haar dogter wie se liggame Maandag in ‘n oop mynskag net sowat 5km vanaf hul kleinhoewe by Eikenhof naby die Eye of Africa-landgoed suid van Johannesburg gekry is.
Hester Flemming (52) en haar ma, Cecilia (82) is die afgelope naweek op hul kleinhoewe beroof en ontvoer nadat hul aanvallers ‘n heining geknip het en toe die veiligheidshek van hul huis oopgebreek het.
Tydens die rooftog is ‘n Isuzu bakkie, Toyota RAV4, twee vierwielmotorfietse, ‘ n veldfiets, juwele, en ander huishoudelike items onder meer gesteel.
Die vroue is Saterdagoggend as vermis aangemeld en is ‘n grootskaalse soektog na hulle begin.
Een van die verdagtes is Sondag in ‘n informele nedersetting by Eikenhof gearresteer terwyl nog ‘n verdagte intussen ook vasgetrek is.
Beide het reeds voor die hof verskyn.



